Karen Dudley se tuin by haar huis in Woodstock is vol stories. Net soos haar beroemde eetplek, The Kitchen, ’n paar strate verder.

Michelle Obama het immers al agter geslote deure daar kom eet toe sy presidentsvrou was. (Dit alleen is ’n verhaal op sy eie.)

View this post on Instagram

A post shared by Karen Dudley (@lovethekitchen) on

Lank gelede, toe Karen nog vanuit haar huis spyseniering gedoen het, was haar erf ’n sanderige affêre. Maar sy het deur die jare elke skil, stingel en oorskietpeul uit haar kombuis in die grond ingewerk.

View this post on Instagram

A post shared by Karen Dudley (@lovethekitchen) on

Vandag is dit ’n lushof met sitrusbome, grenadellas, kruie, ’n vye- en ’n pruimboom, groente, allerlei inheemse goed ... en steggies (elk met sy eie geskiedenis) wat baldadig blom.

En sy werk steeds gereeld ’n emmer oorskiet-groengoed in die grond in – met die komplimente van The Kitchen.

“Dis ’n hele siklus ... baie organies.” Haar karaktervolle deli/eetplekis al byna drie keer so groot soos die oorspronklike plekkie wat sy in 2009 begin het toe haar kombuis tuis te klein geraak het vir haar spysenieringsbesigheid.

“Omdat The Kitchen so ’n intieme, persoonlike gevoel het, besef mense nie altyd op watter skaal ons mense kos gee nie. Elke twee, drie, vier dae word hier twintig kilogram eiervrug afgelewer, botterskorsie by die vragte, vars kruie ...” vertel Karen.

Destyds is hul deure in Sir Lowry weg sonder veel fanfare geopen.

“Mense het toe na Woodstock gekom vir ’n blik verf of om hul motorradio reg te maak, nie om te eet nie.” Die ruimte was piepklein, hul kombuis reg in die middel van die winkel. “Ons het gehoop op ’n handjievol mense, ons het nie eens gedink dis nodig om kelnerinne aan te stel nie.”

In ’n praatjie ’n klompie jare gelede het Karen haar aha-oomblik dié dag só beskryf: “Ons eerste klante was ’n man en ’n vrou van ’n galery naby ons. Sy het ’n bietjie hartseer gelyk, hy was kind en het aandagtig geluister ... Ek het besef dis nie die tyd om te pronk met my nuwe reeks slaaie nie. Nou was die tyd om ’n pot tee te maak en ’n suurlemoenvierkant aan te bied. En dís toe dit my tref: Ek is mál daaroor om mense te bedien. Met kos kon ek mense aanraak. Ek kon iemand troos met net die regte seleksie slaaie. Iemand oorrompel met ’n blink heuningmosterd-worsie warm uit die oond. En as ek ’n Love Sandwich maak [haar spesialiteit, gebaseer op die eter se gemoedstoestand], is daar ’n oomblik van stille eerbied.” Nie lank nie of mense het begin toustaan vir ’n sitplek. Hulle het van oral gekom, inwoners van die buurt, hipsters, toeriste ...

En gou het Karen besef dat hulle inderdaad kelnerinne gaan benodig! Net ’n jaar daarna is hul “kafeetjie” in die New York Times geresenseer en in 2011 het dit gegons toe Michelle Obama en haar entourage, onder wie haar dogters, Malia en Sasha, daar kom eet het. Die straatblok is afgesper, sekuriteitswagte het sake met arendsoë dopgehou (Karen se ma het wel sjarmant ingeglip!) en ’n gesellige kuiertjie het gevolg. Op die “first lady” se bord: falafel en hoemoes, koshari-rys-pilaf, eiervrug-ratatouille, Karen se beroemde slaai met beet, appel en koljander, gekapte Turkse slaai en ’n Viëtnamese koolslaai. Hul unieke verskeidenheid vars slaaie – meer as 100 – het al hul handelsmerk geword. Hulle innoveer voortdurend.

“En dis nie net ’n kwessie van ’n spul goed bymekaar gooi nie – jy moet in die siel van daai groente ‘delf ’. Dis net soos tuinmaak – jy vorm, definieer en koester. Dis ’n spesiale talent,” sê Karen. Of sy nou in die kombuis of haar tuinwerk, sy bly leer gierig. Wanneer snoei jy ’n koejawelboom? Hoe kan ek meer waterwys plant? Wat kan ons nog saam met swart rys kombineer? Toe sy ná universiteit in ’n geskiedkundige herehuis in Washington DC gaan werk het, het kos en al sy wonderlike moontlikhede haar begin prikkel.

Sy het ook later in Londen by ’n deli en spysenieringsfirma die kuns geleer om partytjies te reël. Vandag is haar uitgebreide spysenieringsdiens (van aandetes tot korporatiewe geleenthede en troues) ’n groot deel van haar besigheid.

Haar aanhangers is versot op haar boeke – A Week in the Kitchen, Another Week in the Kitchen en Set a Table (al drie deur Jacana Media).

“Mense sal letterlik my aartappelslaai op bladsy 96 vir my aanhaal! Dit gee my die grootste genoegdoening om te weet dat ek ’n invloed het op hoe mense oor kos voel en wat hulle kies om te eet.” As entrepreneur en ma van twee tienerkinders (Ben 15, en Maggie 13) is haar lewe bedrywig, maar wanneer sy stilte nodig het, mik sy tuin toe.

“Soms woel ek in die grond. Maar ek glo ook ’n tuin moet geheime hoekies hê waar jy tyd kan deurbring. Myne het baie wegkruipplekkies. ’n Bankie. ’n Hangmat tussen twee bome. En daar’s allerlei spesiale elemente, soos ’n boog gevorm van inheemse hout – ’n liefdesgebaar van my man, Dave (oftewel The Sweetheart). Dis my private ruimte. Dis ’n groot voorreg om die beskermvrou van ’n tuin te wees.”

Bykomende bronne:

www.karendudley.co.za; praatjie by Cape Talk en Sage One se Kleinsake-toekenningsgeleentheid.