JAN DESSEYN, ’n argitek van Kaapstad, het nog altyd ’n plasie op die platteland begeer. Nadat hy by vriende op Robertson gekuier het, was hy verlief op die distrik, maar helaas, daar was nie plase te koop nie. Die agent het hom wel na ’n skakelhuis op die dorp geneem. Daar en dan het hy sy vriend RICHARD PERFECT (ook ’n argitek) gebel en hom oortuig dat hierdie ’n ongeslypte diamant is. Jan vertel dat dit oorspronklik vier skakelhuise was en toe hulle dit gekoop het, was dit een groot woonhuis. Daar was baie werk, maar die twee het kans gesien en dit in twee pragtige huise omskep met ’n groot deelstoep en tuin aan die agterkant.

NATUURLIK VIR JAN
NATUURLIK VIR JAN

Wit, grys en ’n tikkie kleur sorg vir ’n gesellige en knus sitkamer in Jan se huis. Die bokhaarkombers oor die stoel se armleuning en die wynrak skep ’n warm en verwelkomende atmosfeer. Die geraamde kunswerke en wit koekoekklok bo die kaggel laat jou glimlag. 

GEEL VIR RICHARD
GEEL VIR RICHARD

Die geel ottoman en leunstoel is soos twee sonkolle in die leefarea van Richard se huis. Dit vorm ’n mooi kontras met al die houtelemente en die warm bruin muur.

FOTO’S HENK HATTINGH
FOTO’S HENK HATTINGH

Die kombuis vorm deel van die leefarea. Die fokuspunt is die groot hangkas wat as bêreplek dien vir kruideniersware en breekgoed. Jan het die minimum ingeboude kaste geïnstalleer, maar bo die wasbak en stoof is ’n eenvoudige houtrak gemonteer waarop ’n ry ou, eenderse spieëls en mooi kombuisgoed uitgestal word.

RICHARD SE KOMBUIS
RICHARD SE KOMBUIS

In sý kombuis het Richard die kaste en die mure in dieselfde interessante bruinerige kleur geverf (Plascon se Camp Walk). Ook hier is ’n unieke ou kas die fokuspunt. As werkvlak het hy vir ’n ou poskantoor-sorteertafel ’n smal marmerblad laat sny. Aan die sorteerkant hou hy kleiner kombuisgoed.

BADKAMER
BADKAMER

Jan se en suite-badkamer is donkergrys geverf (Duram het ’n baie mooi reeks grys verwe, duram.co.za). In die nis het hy ’n pittige geraamde aanhaling en ’n spieël gehang. Die vaas het hy by Rialheim (rialheim.co.za) gekoop.

STOEPKAMER
STOEPKAMER

Richard se slaapkamer grens aan die stoep. Die sjarme van die kamer lê in die minimalisme en eenvoudige lyne van die hemelbed. Deur die nis aan die linkerkant van die bed kan die oorspronklike steenwerk van die huis gesien word.

NOG ’N STOEPKAMER
NOG ’N STOEPKAMER

Soos Richard se slaapkamer, loop Jan s’n ook uit op die stoep. ’n Helderblou kombers word as deken gebruik en geraamde prente van hedendaagse ikone versier die bedkassie. 

RICHARD SE VOORPORTAAL
RICHARD SE VOORPORTAAL

Met die natuur as inspirasie het Richard hierdie wondermooie wit portaal geskep. Die mure en grofafgewerkte vloer is spierwit geverf om by die geraamde botaniese prente te pas. In die oorgroot glassilinders is gedroogde aalwynblare. 

KONTAK:

Jan Desseyn Architect: 021 462 6017, hendrik@desseyn.co.za

Richard Andrew Perfect 021 462 1333, richard@richardperfectarchitects.co.za