Cornel en Marlize de Jongh is al karperde van universiteitsdae. Hy is ’n biomediese ingenieur en sy ’n spraakterapeut. Albei is gek na die buitelewe en voor klein Uys (byna 2) sy opwagting gemaak het, het hulle die wêreld in hul geliefde Land Rover platgereis. Cornel is van jongs af mal oor houtwerk en dié stokperdjie het nou ’n winsgewende tweede beroep geword wat hy in sy vrye tyd beoefen. Hy en Marlize is mede-eienaars van die aanlyn dekorwinkel Huijs (www.huijs.co.za). Binnekort maak hulle ’n vertoonlokaal en ontwerpateljee by hul huis oop.

Die huis aan die buitewyke van Durbanville het hulle in 2009 gekoop. Hulle het gou-gou aan die werk gespring en ’n sitkamer, kombuis en eetkamer aangebou. Gelukkig was die huis so op die erf geplaas dat hulle na albei kante ruim kon uitbrei. Die soliede plankvloer is behou en die aangeboude deel se vloerafwerking is wit sement deur Cemcrete (www.cemcrete.co.za). Hulle wou die dekor #aards hou met hope natuurlike elemente soos hout en klip. Die huis voel kalm en rustig en die tuin het hulle met droogtebestande doringbome en grasse uitgelê, wat tot die rustieke gevoel bydra. Pure plaas in Afrika.

Marlize, Cornel en klein Uys in hul sitkamer.
stylvolle gemak Die oopplan-TV-kamer is gemaklik ingerig met ’n L-vormige neerplof-bank. Die nis waar die houtbeeskoppe uitgestal word, was oorspronklik bedoel vir die TV, maar dié is intussen teen die muur gemonteer. Die dryfhout-lig is Cornel se handewerk.
Funksioneel en mooi Marlize kan gesellig saam kuier wanneer sy kook, want die kombuis is deel van die leefarea en eetkamer. Die ingeboude wit sement-en-beton-werkvlakke huisves diep laaie en die vloer is ook afgevlakte verseëlde wit sement.
met liefde gegee Hierdie mooi kunsafdruk het Cornel vir Marlize vir ’n spesiale verjaardag gekoop. Die houtskyf is saamgestel uit duisende piepklein diertjies en verteenwoordig albei se liefde vir die natuur en hout. Die smal dientafel en houtrak is uit Cornel se reeks.
Die buitelewe Die tuin is ook verteenwoordigend van hul liefde vir die buitelewe en met droogtebestande plante en bome uitgelê. Onder die koelte van die doringbome het hulle ’n vuurput gebou vir lekker braaikuiers buite. Dit voel soos Afrika.
Deur soos ’n kunswerk Een van die mooi dinge in hul rustige slaapkamer is beslis die groot glydeur wat op ’n staalspoor gemonteer is. By die bed is twee hangligte (ook uit Cornel se reeks) en die badkamervloer is met plat klippies geplavei.
Pure seun Klein Uys se kamer is ’n regte, egte seuntjiekamer met ’n gebreide renoster en ’n bewertjie van wilde diere bo sy bed. Sy kassie is steenkoolgrys geverf, en pleks van ’n kasknop is daar ’n leertong waarmee die laai oopgemaak word.