Die Britse reeks Downton Abbey het ons ’n kykie in die lewe van die 1900’s se adellikes gegee - en die personeel wat hul yslike huishouding seepglad laat verloop. Elke nou en dan was daar ’n slim wenk van ’n kok, lyfkneg of diensmeisie.

SARIE wou by ’n professionele butler, Anton van Deventer van die SA Butler-akademie, weet hoe jy handdoeke sag en donsig hou.

Dís sy wenke:

- Bly weg van versagmiddel. Dit het ’n oliebasis wat opbou en die handdoeke later hard maak. Voeg eerder ’n koppie wit asyn by die spoelsiklus. Dit sal ook geen reuk laat nie.

- Gebruik net die helfte van die waspoeier vir handdoeke as vir ander wasgoed.

- Was jou handdoeke teen minstens 60 °C, en baie vuil wit handdoeke op byna kookpunt (80-90°C). Moet dit nie met gekleurde handdoeke doen nie, dit sal die kleur uitwas.

- Vryf ammoniak (Handy Andy) op oliekolle op wit handdoeke voordat jy dit in die wasmasjien gooi.

- Week wit én gekleurde handdoeke met grimeer- en ander vlekke daarop eers in materiaalvlekverwyderaar (Vanish Power O2).

- Jou handdoeke sal sagter wees as jy dit op ’n mediumhitte in die tuimeldroër droogmaak, eerder as om dit in die son te hang.

- Sodra jy dit uit die tuimeldroër of van die draad haal, vat jou handdoeke aan die hoeke vas en rek en trek dit ’n paar keer voordat jy dit opvou en bêre. Dit sal die handdoeke mooi reguit hou.

Hier’s nóg wenke

Só kry jy rooiwynvlekke uit

Oliver Hawthorne, ’n Amerikaanse butler, het dié raad aan GOOP gegee: "Gebruik witwyn om rooiwynvlekke te verwyder. En as die materiaal delikaat is, kan jy sodawater en ’n wit lappie gebruik. As dit steeds nie wil uit nie, kan jy ’n klein bietjie sout oorgooi."

Ek is moeg om lakens te stryk!

Anton het nóg ’n wenk vir SARIE-lesers: Moenie lakens en duvetoortreksels in die tuimeldroër sit nie - jy gaan jou ure se strykwerk op die hals haal. Die geheim is om jou wasmasjien op ’n hoë spinspoed te stel en die nat lakens dan op die wasdraad te hang. Jy sal dalk glad nie hoef te stryk nie!

Só hou jou skottelgoedwasser langer

Dit ís ’n goeie idee om vuil skottelgoed vinnig af te spoel voor jy dit in die skottelgoedwasser pak, sê Anton. "Moet veral geen skottelgoed waaraan aartappel vassit net so inpak nie - dit sal alles vuil maak. Spoel dit eers goed af."

Gooi een keer per week ’n halwe koppie bleikmiddel (Jik) in die skottelgoedwasser, laat dit ’n uur staan en laat dit dan een volle siklus teen ’n hoë temperatuur loop om kieme dood te maak

Ysterpotte en -panne is nie bedoel vir die skottelgoedwasser nie (aluminium- en staalpotte wel). Ook nie enigiets met silwer-afwerkings nie - die silwer sal van kleur verander. 

Die volgende moet slegs met die hand gewas word:

- Messegoed van soliede of oorgeblaasde silwer of met ivoorhandvatsels, messegoed waarvan die lem in ’n hol hef pas (hollow handled), piouter-items, fyn porselein, mat-glas, kristalglase, enige hout-items.