JOU EIE ADVENTKALENDER

As jy nie lus is vir ’n boom en kranse nie, dek ’n mooi skinkbord met lint, liggies wat met batterye werk en Kersballe. Plaas dit op jou eetkamertafel of in die voorportaal. Drie groot Kersballe (vanaf R29) van @home. Ander stilis se eie.

GEBRUIK OU BOTTELS

Bottels maak mooi kershouers. Voeg ’n bietjie glans by deur die bottelnekke goud te spuitverf. Plaas takkies, varings of kruie daarin en vul met water. Dek met wit-en-goue borde soos dié uit die David Jones-reeks van Woolworths (R190 vir groot en R170 vir klein bord) en goue glase (R79 vir rooiwynglase) van @home. 

LINT EN VARS TAKKIES

Hou die geskenkpapier effekleurig (dis gewoonlik goedkoper) en versier dit met ’n mooi lint (materiaal-fabriekswinkels het interessante en goedkoop linte wat jou pakkie luuks laat lyk) en ’n vars siprestakkie, varingblaar of ’n roosmarynkransie (volg dieselfde metode as met die groot kranse op bl. 117, maar net op baie kleiner skaal). Maak uit selfdroogklei ronde geskenketikette. Rol dit so 5 mm dik uit en druk sirkels uit met ’n klein glasie. Stempel of krap die naam met die stomp kant van ’n sosatiestokkie uit.

MAAK JOU EIE KRANSE

Verwelkom jou gaste met kranse wat jy self maak van snoeitakkies uit jou tuin of van ’n blomwinkel. Koop ’n rol draad om ’n draadring te vorm of buig ’n draadhanger in ’n sirkel. Buig die ente in lusse met ’n tang sodat jy die lusse inmekaar kan haak. Gebruik takkies en varings van jou keuse wat jy yl om die draadring vleg. Draai die steelkant van die takkie goed met bloemistedraad vas en weer waar nodig. Gaan so voort tot die krans voltooi is. Bank (ontwerp Elba, R12 199) en donkerpers fluweelkussing (R599) van Sofacompany, pers mat en roomkleur symat van Gonsenhauser Fine Rugs (prys op aanvraag).

MENG NUUT EN OUD

Skep ’n elegante landelike gevoel deur ’n krans van droë takkies te maak. Ons het klimop-lote gebruik wat nie die Kaapse droogte oorleef het nie en ’n mooi strik en Kersbal bygesit. Kombineer dit met ’n krans van vorige jare.

REGTE BOOM VOL STERRE

’n Vars boom gee altyd ’n spesiale atmosfeer en “ruik na Kersfees”. Hou dit vanjaar eenvoudig en versier met stringe sterretjies en ’n reuse-ster van stokke wat jy self maak. Koop of pons klein papiersterre uit gewone wit papier. Plak dit dan op hekeldraad vas om hierdie stringe te maak. Vyf bamboeslote, of enige ander stokke, selfs tappenne (dowels), kan vir die ster gebruik word. Lê die stokke op die grond neer en vorm die ster. Gebruik ’n gomgeweer om die punte en waar takke kruis in posisie te hou. Draai punte stewig vas met dun draad wanneer die gom droog is. Die mandjie (R595) en sytafels (R2 995 vir 3) is van Loft Living.

JOU EIE ADVENTKALENDER

Koop stewige (160 gsm) goudkleurige papier en knip 24 sterre uit. Jy kan dit driedimensioneel vou deur die sterpunte lengtegewys op die lang stippellynena bo te vou. Vou en druk dan die kort stippellyne na onder. Dit verg bietjie oefening, maar jy sal gou die slag kry. (Gebruik foto as verwysing.) Knip verskillende lengtes dun lint en heg sterre met ’n gomgeweer aan die lint. Bind om ’n tak en rond af met vars blare en ’n blink ster aan die bopunt. Skryf ’n briefie wat jy oprol en agter die ster vasplak waarin jy die geskenkie of eetding se wegsteekplek verklap. Die koekstaander (R595) is van Woolworths, en die bronskleurige emaljebak (R395) en mosterdkleurige bak (R375) van Loft Living. Plakpapier (Frosted Almond, reeks Seduction) is van Hertex en kos R1 512 per 10 m-rol.

KOEPELKUNS

Herbenut jou glaskoepels deur klein Kerstonele, liggies of Kersballe daarin te rangskik. Dek jou tafel hiermee vir ’n unieke tafelversiering of rangskik dit mooi in jou voorportaal.