Blomme en plante maak mense gelukkig, vir baie is dit terapie en pitkos vir die siel.

Deel vanjaar op Tuindag dié vreugde met vriende, familie of selfs ’n entoesiastiese medetuinier met ’n feesviering in jou tuin of tussen die plante op jou stoep of in jou sitkamer.

Nooi sommer ook dié wat nog hul groen vingers moet ontdek en agterkom hoe lekker tuinwerk kan wees.

Loer hier na idees vir jou uitrusting, spyskaart en partytjie-doendinge. Deel ook jou viering op Instagram en Facebook deur #GardenDaySA te gebruik en @sarietydskrif en @GardenDaySa te "tag". Een gelukkige wenner gaan wegstap met ’n geskenksak van Babylonstoren ter waarde van R1 000!

Garden Day
Links en bo: (FOTO Michael le Grange), regs onder: Zoë Brown (FOTO Jacques Weyers)

Jou uitrusting

Wat is meer gepas as ’n Tuindag-uitrusting met bloeisels en blomme! Boonop is blomme ook een van dié seisoen se grootste trends. Die loopplanke by die onlangse modeweke in New York en Londen was ’n ontploffing van blompatrone.

Loer hier onder na ’n paar uitrusting-idees van die voorste modehuise, en laat dit jou inspireer om waagmoedig te wees en blompatrone te meng met ander patrone. Jy kan ook saam met jou uitnodiging vir gaste vra om volgens tema aan te trek.

inspirasie
Mode-inspirasie. Heel links: Jasper Conran, bo-middel: Alice Archer, bo-regs: Veronica Beard. Onder-middel: Badgley Mischka, regs-onder: Temperley London.

Jou spyskaart

Lente is blomtyd, en ons kan nie wag om bloeisels orals te sien en te ruik nie. Hierdie spyskaart is ’n ode aan blomme, die kroon van enige tuin en die perfekte pasmaat vir Tuindag.

Herman Lensing, SARIE se kosredakteur, het vir al die geregte verskillende blomme gebruik. Klik hier vir die volledige spyskaart en resepte, of besoek Tuindag vir nog heerlike resepte.

Jou spyskaart vir Tuindag
Jou spyskaart vir Tuindag deur Herman Lensing

Jou doendinge

Buiten lekker eet en saamkuier, is daar ook verskillende heerlike idees vir aktiwiteite wat jy saam met jou gaste kan doen. Hier is ’n paar van Tuindag se DIY-doendinge:

1. Maak ’n Tussie Mussie

’n "Tussie Mussie" is ’n oulike woord uit die 1400’s wat ’n klein ronde handruikertjie beskryf. Dit bestaan uit blomme en kruie wat elkeen ’n simboliese betekenis het. Dit ruik heerlik as jy daaraan raak. Laat jou gaste hul eie handruikers maak met persoonlike boodskappe. Loer hier na SARIE Woon se DIY-video:

2. Maak ’n kruiekrans

Daar is net iets omtrent die geur van kruie. Of dit nou in die tuin, in jou kos of in jou huis is, die geur van kruie maak jou rustig en gelukkig. Maak saam met jou gaste kruiekranse, Herman wys jou hoe in hierdie video:

3. Hou ’n plant-ruil-partytjie

’n "Plant Swop" is ’n oulike en interaktiewe manier om Tuindag behoorlik te vier, en boonop kry jy ’n kans om nuwe plante tot jou versameling te voeg! Laat elkeen van jou gaste ’n potplant bring in ’n eenvoudige houer. Vra elke gas om die plant se naam en aanwysings op die houer te skryf en gee vir elke plant ’n nommer. Gaste kan dan kaartjie met nommers op uit ’n hoed trek en die plant kry wat met die nommer ooreenstem!

blomme
Links: Tuindag-ambassadeur Constance Stuurman (FOTO: Jacques Weyers), Regs: SARIE KOS (FOTO Michael le Grange)

Vir nog blom-inspirasie:

Die Tuindag-webtuiste, www.tuindag.co.za, maak dit nog meer pret, met WhatsApp-uitnodigings vir gaste en mooi foto’s vir sosiale media. Vir nog meer fleur en kleur, maak jou eie blomkrans. As jy onseker is hoe, kyk na video’s op die webtuiste of woon een van die werksessies in Kaapstad of Johannesburg by.

Onthou: Deel jou Tuindag-vieringe met @GardenDaySA en @SARIEtydskrif op sosiale media.

Tuin-raad op jou foon:

Word deel van ’n hele tuingemeenskap met tuinraad alles op een plek. Candide, trotse skepper van Tuindag, het nou ’n slimfoon-app met raad van ander plantliefhebbers asook ’n funksie wat jou plant kan identifiseer en raad gee, terwyl dit die middelman is tussen jou en jou naaste kwekery. Candide is gratis en kan op Google Play of jou Apple App Store afgelaai word,