Met die SA Weerdiens wat die naweek sneeu in dele van die land voorspel, word Suid-Afrikaners gemaan om paraat te wees in die ysige weer.

“Die winter hou unieke risiko’s in,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Maak seker jy is bewus van hierdie risiko’s en is deeglik voorberei – tuis én op die pad.”

Virseker deel die volgende veiligheidswenke vir in en om die huis asook agter die stuur:

Wenke vir tuis

• Geute – Gaan alle geute asook jou huis se dak na vir opgehoopte blare, want dit hou nie alleen ’n brandgevaar in tydens droë weer nie, maar veroorsaak ook blokkasies wat groot skade kan veroorsaak wanneer dit weer reën.

• Krake – Gaan alle strukture, veral ondersteuningstrukture vir dakke en dekke, na vir krake. Wanneer vog in hierdie krake versamel en in die nag vries, sit dit uit en veroorsaak dit selfs meer skade.

• Sneeu en ryp – Indien jy in ’n streek woon wat swaar ryp of sneeu kry, maak seker dat die strukture rondom jou huis die ekstra gewig kan dra en dat jy goed toegerus is om opgehoopte ys en sneeu te verwyder indien nodig. Bring versterkings aan waar nodig.

• Geiser – Laat jou geiser nagaan om seker te maak dat onderdele soos die element en termostaat werk, dat alle bedrading veilig is en dat daar geen lekplekke is nie. Oorweeg dit om ’n outomatiese skakelaar en kombers vir jou geiser te kry. Dit spaar nie alleen elektrisiteit nie, maar kan ook help om te voorkom dat die geiser bars as gevolg van temperatuurskommelings.

• Uitklinkskakelaar – Maak seker dat dié skakelaar behoorlik werk. Die druk op jou huis se elektrisiteitstoevoer is hoër in die winter en ’n foutiewe uitklinkskakelaar kan ’n groot brandgevaar inhou.

• Kabels en bedrading – Die somerslaap van wintertoestelle kan die bedrading beïnvloed, gaan dit dus na vir krake en skeure om ’n brandgevaar te voorkom.

• Elektriese kombers – Gaan die bedrading van jou kombers na, omdat foutiewe bedrading ’n skok- en brandgevaar kan inhou. Probeer ook die gewoonte aanleer om die kombers kort voordat jy gaan slaap aan te skakel en weer af te skakel wanneer jy in die bed klim.

• Skakel af tydens kragonderbrekings – Wanneer daar ’n kragonderbreking is en jy onseker is of ’n toestel aan is of nie, wees eerder versigtig en skakel die hoofskakelaar af, of ontkoppel die toestel by die muurprop.

• Brandstowwe – Maak seker dat toestelle wat van brandstowwe soos gas in paraffien gebruik maak, in ’n goeie werkende toestand is, en dat die brandstowwe veilig weg van jou huis af geberg word.

Voertuigwenke

• Ruitveërmotors – As jou motor buite staan, moet jy seker maak dat die ruitveërs afgeskakel is voordat jy die enjin afskakel. Die stremming van ys wat op die veërs opbou, kan die ruitveërmotor laat uitbrand wanneer jy jou motor weer aanskakel. Spoel die voorruit en ruitveërs met warm water af voordat jy op ’n koue wintersoggend vertrek. Moet egter nie kokende water gebruik nie omdat dit die ruit kan laat kraak.

• Loopvlak – Maak seker dat jou bande genoegsame loopvlak het. Afgeloopte bande is veral in ysige toestande ’n gevaar vir jou en ander motoriste.

• Druk – Lae temperature kan motorbanddruk verlaag. Banddruk van 2 bar in lente- en somertemperature kan byvoorbeeld maklik tot 1,8 bar daal in die winterkoue. Maak dus dubbel seker dat die bande reg opgepomp is.

• Battery en olie – Enjins vat moeiliker in lae temperature weens laer batterykrag en minder vloeibare olie, so laat jou motorbattery nagaan en ook die olie vervang (met olie wat aan die vervaardiger se spesifikasies voldoen) indien nodig.

• Vonkproppe – Hoe laer die temperatuur, hoe stadiger verdamp brandstof en hoe moeiliker ontbrand dit. Dit is nou die ideale tyd vir ’n diens. Selfs net ’n nuwe stel vonkproppe kan ’n groot verskil maak.

• Vriesteenmiddel – Gebruik die regte mengsel van vriesteenmiddel en water om optimum vries- en kookpunt te verseker. ’n Konsentrasie van tussen 40% en 50% (per volume) word deur die AA aanbeveel.

• Wasem – Wasem en ys op ruite is ’n groot risiko. Maak seker dat jou motor se ontwasemingstoestelle werk en dat die verwarmer reg werk. Pasop om die verwarmer té warm te stel omdat dit tot lomerigheid kan lei.

• Barsies – Klein barsies in die voorruit kan in groot krake ontwikkel wanneer die temperatuur baie wissel, veral as vogtigheid dit binnedring. Laat dit dus so gou as moontlik herstel.

• Brandstof – Sorg dat die brandstoftenk altyd meer as halfvol is. As jy in die winter gestrand raak, sal die motorenjin jou enigste bron van hitte wees.

• Glans – Winterglans, waar bestuurders tydelik verblind word deur die son, veroorsaak duisende ongelukke wêreldwyd. In die wintermaande is die son naby die horison tydens oggend- en middag-spitstyd en bied voertuie se sonskerms min of geen beskerming. Dra ’n goeie sonbril en verminder spoed wanneer daar beperkte sigbaarheid is.

“Selfs wanneer na al hierdie dinge omgesien is, is daar ’n kans dat die onvoorsiene sal gebeur. Maak seker dat jy altyd ’n noodplan in plek en noodnommers byderhand het, en dat jy voldoende verseker is,” sluit Twilley af.