TREND #1: MAKSI-ONTWERPE

Die nuutste in plakpapier is sulke oorgroot ontwerpe. Met oorgroot blomme, so realisties dat jy daaraan wil vat en jou verbeel jy kan dit ruik, die gewildste. Die treffende plakpapier is van die plaaslike ontwerper Cara Saven Wall Design (www.carasaven.com). As ’n hele muur vol blomme jou gaan oorweldig, kies dan ’n reuse-afdruk van blomme of plante. Die wagwoord is oorgroot.

FOTO: Easy Life Kitchens

TREND #2 NUWE PLAASKOMBUIS

Vir baie van ons is ’n kombuis ’n plek van saam kook, saam kuier, saam proe. ’n Hartsplek met al die nodige toerusting om ’n uithaler-ete te berei. Elemente soos hout, ’n klein stofie en kombuiskaste met glasdeure gee dit ’n gemoedelike plaasatmosfeer.

FOTO: Weylandts

TREND #3 PIKSWART

Swart in dekor kan stylvol en kontemporêr wees. Dikwels word dit net as ’n aksent gebruik, maar nou is die gier om ’n hele vertrek in swart te tooi. As dit vir jou te veel is, bring net hier en daar ’n swart element in. Jy sal verbaas wees oor hoe dit ’n vertrek afrond.

Teëls is patroon- en kleurryk en word binne en buite gebruik. Dit pas in die meeste vertrekke in jou huis FOTO: Plascon

TREND #4 DIE WÊRELD IS MY WONING

Die internet het ons toegang tot die wêreld gegee en die invloed is duidelik te sien in ons wonings. Teëls uit Marokko en ’n vaas uit die Ooste sorg vir ’n huis vol karakter.

’n Tagine soos die een waarmee die Marokkane kook (R350), Poetry
Afrika-mandjies lyk treffend teen ’n muur opgehang (klein tot groot: R160-R800), Ashanti Design
Dié vaas uit die Ooste is ewe mooi met of sonder blomme (R895), Block & Chisel
Die stoel is van rottang (R1 950), www.elevenpast.co.za
’n Aardbol om ver plekke op tesoek (R350), Woolworths

FOTO'S: La Bella Vita Studios

TREND #5 ORGANIESE VORMS

Dinge uit die natuur, soos plante en diere, word met organiese fatsoene geassosieer. Die ronde vorms en sagte lyne is strelend op die oog en het ’n kalmerende invloed in ’n vertrek. Meubels van hout en rottang werk veral goed by dié voorkoms. Speel met teksture sodat jou tas-sin gestimuleer word. Die foto is geneem by La Bella Vita Studios (www.labellavita.co.za), selfsorg-oorslaapverblyf in die Paarl.

Mini-detail

TREND #6 MINI-DETAIL

Fraiings en pompons is ’n vrolike teenvoeter vir formele dekor. Dit word gebruik om kussings of gordyne mee af te werk. En diere en insekte op items roer ons hart.

’n Strandkombers met fraiing-afwerking (R400), HAUS by Hertex
Insek- en dierontwerpe word op breekgoed en tekstiele gebruik (kleinbordjie R129), H&M
Pompons gee ’n speelse gevoel (mandjie R299), Poetry
Pynappels in enige vorm, kleur of medium is gewild (prys van kunsafdruk op aanvraag), Pezula Interiors
Kussing met tossels aan die punte (R200), mrphome