As kind het Carla de Fondaumiere van Kaapstad baie gelukkige vakansies en naweke langs die Langebaan-strandmeer deurgebring. Haar man, Marc, en hul twee kinders is net so lief vir die Weskus. Toe ’n eiendom dus reg langs die water in die mark kom, het hulle gespring om dit te koop. Die erf was lank en smal en daar was ’n bouregulasie dat ’n hoogte van 4,1 m nie oorskry mag word nie. Carla wou egter ’n see-uitsig vanuit haar leefarea en slaapkamer hê. Barry Gould van Barry Gould Architects, wat vir die planne verantwoordelik was, het toe ’n slim plan beraam en die kombuisvloer gesink sodat die hoofslaapkamer en ’n uitsigterras op die boonste verdieping gebou kon word. Carla het kleure uit die natuur as haar palet gebruik en wou ook natuurlike stowwe soos klip en ligte hout inkorporeer. Sy is ’n interieurontwerper (GDF Designs, www.gdfdesigns.com) en het die taak met groot liefde en entoesiasme aangepak.

FOTO’S HENK HATTINGH

BESKUTTE BUITE-KUIERPLEK

Die stoep met sy uitsig op die strandmeer is gemeubileer met ’n lang bonkige tafel en eetbankies, gemakstoele en ’n lang ingeboude bank. Dis soos ’n verlenging van die leefarea en het hortjies wat kan toeskuif en die eiendom beveilig. WENK: Beskut jou stoep met hortjies of seile sodat jy dit heeljaar kan gebruik.

FOTO’S HENK HATTINGH

GESONKE KOMBUIS

Die kombuisvloer is gesink sodat die hoofslaapkamer en ’n terras op die boonste vlak gebou kon word. Pleks van rye kaste, het Carla diep laaie gekies. Die kas in die hoek huisves die yskas en kruideniersware. Die sweefrakke wat aan ’n staalstruktuur hang, maak die pakplek interessant en prakties. WENK: Diep laaie wat jy kan uittrek pleks van ondertoonbank-kassies, is baie meer prakties want jy kan alles dadelik bykom.

FOTO’S HENK HATTINGH

VERSIERDE STOEP

Carla beskou ’n stoep as nog ’n “vertrek” en het dit prakties en interessant ingerig met ’n enkele groot ornament op die kassies en altyd iets groens op die tafel. WENK: Hou ’n seehuis se dekor eenvoudig en moenie te veel tipiese seeversierings gebruik nie. Dit maak jou plek voorspelbaar.

FOTO’S HENK HATTINGH

KLIP EN HOUT

Carla se familie kom kuier graag en dan verkeer hulle gesellig om die etenstafel wat vlak by die kombuis en beskutte stoep is. Die muur teen die trap na bo is met klip afgewerk. Onder die trap is die spasie omskep in ’n spens en stoorkamer. Die houtdeure wat dit wegsteek, is dekoratief en prakties want dit kan gesluit word. WENK: Laat jou vakansieplek vir jou werk: Gebruik ’n verhuringsagent vir die vakansies en naweke wat jy dit nie kan benut nie.

FOTO’S HENK HATTINGH

BIETJIE KLEUR

Een van die kamers onder het ook ’n klipmuur wat ’n mooi kontras met die helder dekens en groot boontjiesak vorm. Die vloer is gepoleerde sement.

FOTO’S HENK HATTINGH

BAD LUUKS

As jy taai en moeg van die see af kom, is jy lus vir week in warm water. Die instapstort en eiervormige bad pas by die organiese vorm van die uitgeholde houtstomp-wasbak en spieël met tou-afwerking.

FOTO’S HENK HATTINGH

BOONSTE KAMER

Die vertrek is sonder fieterjasies ingerig – ’n groot bed, ’n hangkas en ’n luukse klein badkamer (sien meer van die badkamer in WOON wat vanaf 5 November op straat is). Die groot hortjiesdeur lei na ’n buitestort en aan die oorkant van die kamer, wat nie sigbaar is nie, is ’n groot terras van waar die kinders op die strand dopgehou kan word.

FOTO’S HENK HATTINGH

KUIER-SITKAMER

Die gesin is mal oor die buitelug en strand, maar wil soms ook net neerplof voor die TV. Carla wou die TV so onopsigtelik as moontlik hê en het dit daarom teen ’n donker agtergrond teen die muur gemonteer. Oral het sy hout-elemente soos die balke en sytafels ingebring.

Blue Lagoon kan deur Perfect Hideaways (www.perfecthideaways.co.za) gehuur word.