Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
21 wenners saam om 100 j. te vier

Altesame 21 voormalige Comrades-wenners sal Maandag in Pietermaritzburg deelneem aan ’n wedloop oor 2,2 km ter herdenking aan die eerste Comrades 100 jaar gelede. Dit sal dan presies 100 jaar wees nadat die eerste Comrades op 24 Mei 1921 gehardloop is.

Die atlete – wat geklee sal wees in klere soortgelyk aan dié wat die 34 deelnemers in 1921 gedra het– sal net soos daardie geskiedkundige dag voor die stadsaal van Pietermaritzburg wegspring.

En ja, sê Rowyn James, wedloopdirekteur van die Comrades, Vangelis se “Chariots of Fire” wat in Suid-Afrika sinoniem met dié tradisieryke wedloop is, sál gespeel word.

Die atlete sal gelei word deur 'n veteraan-motor, ’n 1918-model Studebaker Tourer.

Die eindpunt van die gedenkwedloop is by Comrades-huis, hoofkantoor van die Comrades-vereniging, in Scottsville.

Sir Arthur Newton, ’n vyfmalig Comrades-wenner, in die oorspronklike kleredrag van die Comrades-deelnemers. Foto: Comrades-argief

Onder die 21 wenners is legendariese atlete soos Bruce Fordyce, ’n negemalige wenner (1981-’89 en 1990), Alan Robb, ’n viermalige kampioen (1976-’78 en 1980), Nick Bester (1991), Jetman Msutu (1992), Shaun Meiklejohn (1995), Vladimir Kotov, ’n driemalige wenner (2000, 2002, 2004), die broers Andrew (2001) en Gift Kelehe (2015), Fusi Nhlapo (2003) en Edward Mothibi, die huidige kampioen.

Onder die vroue is Jan Mallen, die wenner in 1979, Helen Lucre, ’n driemalige wenner, Francis van Blerk (1992), Tilda Tearle (1993), Rae Bischoff (1998), Caroline Cherry (Wöstmann, 2015) en Charné Bosman (2016).

Die 13 ander atlete wat deelneem, sluit in 11 mans wat die wedloop al meer as 40 keer voltooi het en twee vroue wat al meer as 30 keer tussen Pietermaritzburg en Durban en in die teenoorgestelde rigting gehardloop het.

Só lyk die klere waarin die 34 atlete Maandag ter viering van die eerste Comrades in 1921 sal hardloop. Foto: Comrades-vereniging

Onder die mans is Barry Holland en Louis Massyn (albei het die Comrades al 47 keer gehardloop), Wietsche van der Westhuizen (42), Johan van Eeden en ’n voormalige Comrades-gouemedaljewenner, Boysie van Staden (albei 40).

Die twee vroue is Pat Fischer (31) en Kim Pain (30).

Weens die Covid-19-pandemie, wat ook daartoe gelei het dat die Comrades nie die laaste twee jaar kon plaasvind nie, sal net 100 gaste die verrigtinge by Comrades-huis bywoon.

Terloops, die oud-Springbokrugbykaptein Wynand Claassen, ’n seun van wyle George Claassen, wenner van die Comrades op 31 Mei 1961, wat self 11 keer die ultramarathon gehardloop het, was die argitek wat gekyk het na die restourasie van Comrades-huis.

’n Monument ter viering van die eerste Comrades sal by die geleentheid onthul word. Die Comrades het die afgelope eeu gegroei tot die grootste ultra-wedloop ter wêreld.

Comrades-huis, die hoofkantoor van die Comrades in Scottsville, Pietermaritzburg. Foto: Sarel van der Walt

James sê vyf voormalige wenners, Derek Preiss (1974 en 1975), Sam Tshabalala, die eerste swart kampioen (1989), Frith van der Merwe, die driemalige vrouewenner wat in 1989 algeheel 15de geëindig het, Ann Ashworth (2018) en Gerda Steyn (2019) kan nie die geleentheid bywoon nie.

Die meeste Comrades-wenners wat nog bymekaar was, was in 1983 toe 25 kampioene vir ’n reünie saamgetrek het.

Fordyce (65), die onbetwiste Comrades-koning wat dié moordende wedloop 30 keer voltooi het, se enigste kommentaar Vrydag toe hy gevra is of hy reg is om sy tweestryd met Robb van 40 jaar gelede te hervat, was: “Ek hoop ek maak binne die afsnytyd klaar . . . Ek sal gefokus bly, nêrens stop nie en voordeel trek uit die afdraandes.”

comrades
Die atlete sal gelei word deur 'n veteraan-motor, ’n 1918-model Studebaker Tourer.
comrades
Meer oor:  Comrades  |  Pietermaritzburg  |  Vier  |  Wenners  |  Ultra Marathon  |  Wedloop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.