Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
4 medaljes vir SA se viertal in Tsjeggië

Een goue medalje, een silwer medalje en twee bronsmedaljes. Dít is waarmee die vier Suid-Afrikaanse atlete Zakithi Nene, Jo-Ane van Dyk, Johan Grobler en Kyle Blignaut Dinsdagaand gespog het.

Die 400 m-atleet Zakithi Nene hier op pad na sy goue medalje by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in April. Foto: Gallo Images

Nene het glorie geproe op Wêreldatletiek se Kontinentale Reeks se Brons-byeenkoms, die Kladno hází a Kladenské-gedenkbyeenkoms, in Tsjeggië.

Sy teenstanders het veel te wense oorgelaat, maar die Suid-Afrikaner sou nietemin heelwat selfvertroue geput het uit sy eerste plek in 45.78. Die 400 m-atleet is op soek na ’n tyd van 44.90 sekondes om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

Die Ier Christopher O’Donnell was naasbeste in 45.86 met die Duitser Marvin Schlegel derde in 45.96.

Die jong spiesgooier Jo-Ane van Dyk het die beste vertoning van haar loopbaan gelewer en in die proses ’n silwermedalje verower.

Van Dyk se gooi in die tweede ronde het die maatband tot 60,38 m laat rek en haar die voorste plek gegee, voordat Lina Muze van Letland haar in die vyfde ronde verbygesteek het met 62,17 m. Dié afstand het die goue medalje vir Muze gegee.

Tog het die 23-jarige Suid-Afrikaanse nasionale kampioen haar beste vir laaste gelos en vir die eerste keer in haar loopbaan nie net die 60 m-merk oorgesteek nie, maar dit sommer twee keer binne enkele minute van mekaar gedoen.

In die sesde ronde land die spies toe op 61,19 m, met Van Dyk wat altesaam met 1,72 m op haar vorige beste van 59,47, wat sy in April opgestel het, verbeter het.

In die mansafdeling het Johan Grobler ook met sy bronsmedalje en beste gooi van die seisoen uitgeblink.

Grobler het ’n afstand van 80,37 m behaal in die vierde ronde, sy enigste verder as 80 m tydens die byeenkoms en ook net die tweede keer in 2021 wat hy dié kerf oorsteek. Dit was boonop nie ver buite sy persoonlike beste van 80,59, wat hy in 2016 opgestel het nie.

Moldova se Adrian Mardare was eerste met 83,82, ’n nuwe byeenkomsrekord, terwyl Tsjeggië se Vítezslav Veselý tweede was met 81,30.

Kyle Blignaut, ’n voormalige o.20 Afrika- en wêreldkampioen, se afstand van 20,66 m het ook aan hom die derde trap op die podium in die gewigstoot besorg.

Blignaut was voor dié poging in die vyfde ronde nog in die vyfde plek, maar het vir Roemenië se Andrei Toader (20,62) en die Brit Scot Lincoln (20,58) gebokspring om die laaste medalje op te raap.

Portugal se Francisco Belo se eerste poging van 21,27 was genoeg om hom regdeur in die eerste plek te hou, terwyl die Tsjeg Tomáš Stanek silwer gewen het met 21,00 m.

Meer oor:  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.