Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Akani, Henricho beïndruk in 100m-uitdunne
Steeds nommer een! Mo Farah vier fees nadat hy die wêreldtitel in die 10 000 m Saterdag in Beijing verower het. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse naellopers Akani Simbine en Henricho Bruintjies het Saterdag op die Wêreldkampioenskappe in Beijing tot die volgende ronde uitdunne in die 100 m vir mans deurgedring.

Albei het regstreeks gekwalifiseer toe hulle in hul onderskeie uitdunne derde plekke verwerf het. Hul tye was onderskeidelik 10.07 s en 10.09 s.

Hul landgenoot Anaso Jobodwane was egter nie so gelukkig nie. Jobodwane, wat hoofsaaklik op die 200m fokus, is gediskwalifiseer omdat hy te vroeg uit die blokke was. Daar is later in Suid-Afrikaanse atletiekkringe gewonder of hy hom opset laat diskwalifiseer het om nie sy kanse in die 200 m te benadeel nie.

Altesame agt atlete het met die eerste uitdunne tye van vinniger as 10 s aangeteken. Die Amerikaner Justin Gatlin se wentyd van 9.83 s in sy uitdun was die vinnigste.

Lees ook:

■ Eritreaanse tiener maak geskiedenis in marathon 

■ Atletiek kan SA sport ’n inspuiting gee

Jamaika se Usain Bolt, die wêreldrekordhouer en verdedigendde kampioen, se tyd in sy uitdun was 9.96 s. Bolt het nog nie dié seisoen die wêreld aan die brand gehardloop nie, en daar is daarom baie druk op hom op die Wêreldkampioenskappe.

Akani Simbine Saterdag in 'n uitdun van die 100 m in Beijing. | Foto: Gallo

In die 400 m-hekkies vir mans het LJ van Zyl, 'n voormalige bronsmedaljewenner op die Wêreldkampioenskappe en die SA rekordhouer, ook regstreeks deurgedring. Hy was vierde in sy uitdun in 49.12 s .

Kurt Couto, die Mosambiekse Olimpiese atleet wat soos Van Zyl in Pretoria deur Irma Reyneke afgerig word, het ook regstreeks deugedring. Hy het vierde in sy uitdun (49.15 s) geëindig.

Die vinnigste tyd in die uitdunne is gehardloop deur die Keniaan Nicholas Bett (48.37 s) wat gehelp word deur die oud-Springbokhekkiesatleet Hennie Kotze.

Van Zyl en Couto is vroeër ook afgerig deur Kotze, wat nou in Saoedi-Arabië afrig.

■In 'n skitterende wedloop oor 10 000 m het die legendariese Britse atleet Mo Farah sy wêreldtitel op indrukwekkende wyse suksesvol verdedig.

Farah (27:01.13), die Olimpiese- en wêreldkampioen, het die Keniane Geoffrey Kipsang Kamworor (27:01.76), die wêreld-veldloopkampioen, en Paul Kipngetich Tanui (27;02.83) net-net om die titel geklop.

Soos die wêreld al van hom gewoond geraak het, het Farah sy beste vir laaste gelos. Hy het sy neus voorgekry deur die laaste rondte in net 54.15 sekondes te voltooi.

Farah was die laaste paar maande onder groot druk ná beweringe dat die Amerikaner Alberto Salazar, sy afrigter, die reëls oor verbode middels oortree het. Salazar en Farah ontken beide dat hulle enige iets verkeerd gedoen het.

Die Britse atletiekfederasie het ook al gesê hy steun Farah.

Suid-Afrika se Stephen Mokoka, 'n Olimpiese marathonatleet en SA rekordhouer in die 5000m, moes met die 20ste plek − en 'n tyd van 28:47.40 − tevrede wees.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.