Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
10.06: Vinnigste SA man ooit?
Bruintjies pure goud
Henricho Bruintjies

Het Henricho Bruintjies die afgelope Maandag in Praag in die Tsjeggiese Republiek die vinnigste Suid-Afrikaanse mansatleet ooit oor 100 meter geword?

Die 21-jarige Pretorianer het met ’n persoonlike beste tyd van 10.06 ontplof. Net Simon Magakwe (9.98) en Akani Simbine (10.02) kon al vinniger . . . maar laasgenoemde twee het dit in die dun lugdruk van Pretoria behaal.

Dis geen geheim nie dat vertonings in die kort naelloop op die Hoëveld ’n groot voordeel bó vertonings op kusvlak vir atlete inhou.

Feitlik 99% van wêreldatletiek se groot byeenkomste vind op kusvlak plaas, anders as in Suid-Afrika, waar die top-byeenkomste gewoonlik anderkant die Vaalrivier plaasvind.

Die laaste rêrige groot buitelandse atletiekbyeenkoms wat nié op kusvlak gehou is nie, was die Olimpiese Spele van 1968 in die hemelhoë Mexikostad. Dáár het wêreldrekords in die naellope en spronge soos mieliepitte gespat, terwyl die langasems geswoeg het.

Bob Beamon het onder andere daar sy amper bomenslike wêreldrekord in die verspring (8.90) behaal; ’n rekord wat eers 22 jaar later op seevlak verbeter kon word.

Hennie Kriel, Bruintjies se afrigter by Tuks in Pretoria, sê aan Rapport: “Ek is eintlik nie té verbaas oor Henricho se tyd nie. Sedert hy in 2013 by my oefen, het ek altyd besef hier is ’n talent soos min.

“Min mense weet of onthou dit, maar hy het al twee jaar gelede by die Suid-Afrikaanse o.23-kampioenskappe met Simbine afgereken.”

Kriel sê daar is by hom min twyfel nie dat Bruintjies die 100 eersdaags in vinniger as die steeds-magiese 10 sekondes sal kan aflê.

“Ons Suid-Afrikaners moet nou rêrig begin groot dink. Die wêreld se blitse is al vanjaar weer op ’n streep deur die 10 sekondes-grens en as ons rêrig wil saamgesels, moet ons naellopers bestendig tye van vinniger as 10 sekondes aanteken.”

Bruintjies het in Praag met onder andere sy landgenoot Anaso Jobodwana (tweede in 10.13) afgereken.

Simbine het op 4 Junie in Rome by die Diamantliga-byeenkoms ook sý beste tyd ooit op kusvlak (10.08) aangeteken.

) Dis die eerste keer in donkiejare dat Suid-Afrika drie kwalifiseerders in die 100 vir ’n wêreldkampioenskap het.

Benewens hul bedrewenheid in die individuele 100, is dit nie vergesog om te voorspel dat Bruintjies, Simbine en Jobodwana, plus miskien nóg ’n uiters belowende jongeling, Ncincilili Titi, wat ook vanjaar, soos Jobodwana, in die VSA studeer en deelneem – later vanjaar in Beijing by die wêreldkampioenskappe bitter naby aan ’n po­diumplek in die 4x100-aflos kan kom nie.

Jobodwana het die afgelope maand in die buiteland boonop twee keer die Suid-Afrikaanse rekord in die 200 verbeter.

Dié rekord staan nou op 20.04.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.