Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caroline Wöstmann het nie geweet hoe groot Twee Oseane-wentjek is
Caroline Wöstmann hardloop oor die eindstreep van die Twee Oseane-wedloop. Foto: Nasief Manie

Met ’n groot glimlag van pure lekkerkry op haar gesig het die 32-jarige Caroline Wöstmann Saterdagoggend die eerste Suid-Afrikaanse vrou in 14 jaar geword wat die afdeling vir vroue in die Twee Oseane-wedloop kon wen.

Dié lektor aan die Universiteit van die Witwatersrand wat in Pretoria woon en oefen, het ná ’n sterk eindpoging in 3 uur 41 minute 23 sekondes eerste by die Universiteit van Kaapstad oor die eindstreep gehardloop. Die laaste Suid-Afrikaanse vrou wat gewen het, was Gwen van Lingen in 2001.

“My mikpunt vandag was net om onder die voorste tien gouemedaljewenners te eindig. Ek het gedink so negende of tiende sou oraait wees,” het ’n baie tevrede Wöstmann gesê.

Sy het ’n uur en 10 minute vinniger gehardloop as met haar eerste Twee Oseane.

Lees ook:

■ Twee Oseane: SA mans stel teleur in nat wedloop

■ Caroline Wöstmann 1ste SA vrou in 14 jaar wat Twee Oseane wen

■ 28ste kaalvoetwedloop vir Peter Taylor

Saterdag het sy ’n droomwedloop gehad en alles het net eenvoudig vir haar reg verloop.

Wöstmann het teen die moordende Ou Kaapse Weg talle atlete begin verbygaan.

Aan die onderpunt van Suiderkruisweg was sy net minder as twee minute agter die Rus Nina Podnebesnova, die verdedigende kampioen. Hulle het saam die bopunt bereik.

Wöstmann het ’n groot glimlag op haar gesig gekry toe sy daarna by Podnebesnova verby is.

“Ek was geskok en verras toe ek by haar verby is en besef het ek is nou voor. Dit was ’n ongelooflike gevoel.”

Die glimlag was nog op Wöstmann se gesig toe sy onder groot toejuiging die laaste paar honderd meter na die wenstreep aflê.

Die legendariese Ethiopiese atleet Haile Gebrselassie het haar by die eindstreep ingewag. Podnesbesnova het uiteindelik tweede geëindig in 3:44:04.

Wöstmann se fokus is hoofsaaklik op die Comrades op 31 Mei en sy sien nou nog meer uit na dié wedloop. Sy het ook toegegee sy het nie eens geweet hoe groot die wentjek (R250 000) is nie.

Podnebesnova het toegegee sy het dalk te vinnig begin. Die wind en ligte reën het ook gepla.

Die Olimpiese marathonatleet Tanith Maxwell het in haar ultra-debuut derde oor die eindstreep gehardloop in 3:45:18. “My wiele het die laaste 10 km, en veral teen Suiderkruisweg op, afgekom!” het sy gebieg. Maxwell hoop om Suid-Afrika ook weer by volgende jaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro te verteenwoordig.

Charné Bosman, ’n vorige naaswenner, was vyfde in 3:54:31. “Ek het vandag nie te lekker gevoel nie, maar dit is dalk ’n bedekte seëning voor die Comrades,” het sy gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.