Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Afrika-span gelaai met atlete van SA
06 September 2018

Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Kontinentale-bekerbyeenkoms begin Saterdag in Ostrava, Tsjeggië met nie minder nie as 21 Suid-Afrikaners wat die kontinent sal verteenwoordig.

Afrika is steeds op soek na sy eerste sege in dié byeenkoms, nadat dit in 2010 sy huidige formaat ingeneem het.

Ruswahl Samaai sal die naweek Afrika by die IAAF se Kontinentale-bekerbyeenkoms in Ostrava, Tsjeggië verteenwoordig. Foto: Getty Images

Voorheen het dit as die IAAF se Wêreldbekerbyeenkoms bekend gestaan, maar in 2018 is ’n nuwe WB-byeenkoms ingestel wat in Julie in Londen gehou is.

Die Suid-Afrikaners se goeie vertonings by die Afrika-kampioenskap het verseker dat die land die grootste kontingent in die Afrika-span het.

Caster Semenya sal oudergewoonte die gunsteling in die 800 m wees, met die span van Afrika wat grootliks die langer afstande in die visier sal hê om sy medaljetabel aan die rol te hou.

Francine Niyonsaba van Burundi sal haar bystaan. Semenya sal ook in die 400 m meeding, waar sy ’n buiteperd gaan wees teen die VSA se Shakima Wimbley en Salwa Eid Naser van Bahrein, wat vanjaar al vinniger was.

Akani Simbine het ’n groot taak wat op hom wag in die 100, waar Noah Lyles van die VSA en Yohan Blake van Jamaika teen hom in die blokke sal sak.

Elijah Manangoi van Kenia sal ’n sterk kandidaat wees vir ’n eerste plek in die 1 500 m. Hy is die wêreld-, Statebond- en Afrika-kampioen in dié nommer.

Conseslus Kipruto van Kenia is die Olimpiese, wêreld- en Statebondkampioen in die 3 000 m-hindernis, terwyl sy spanmaat, Soufiane El Bakkali van Marokko, se 7:58.15 sover die vinnigste tyd in die wêreld in 2018 in die nommer was.

In die 800 m sal Nijel Amos van Botswana, wat in 2012 die silwermedalje by die Olimpiese Spele in Londen verower het, en sy spanmaat, Emmanuel Kipkurui Korir van Kenia, hul stempel wil afdruk.

Korir is verlede week as die Diamantliga-reeks se kampioen gekroon en saam met Amos spog die Afrika-span ook met die twee vinnigste atlete in dié nommer in 2018.

Korir was die vinnigste in 1:42.05, met Amos wat al vanjaar ’n 1:42.14 aangeteken het.

In die verspring wag ’n interessante stryd in die afwesigheid van die wêreldkampioen, Luvo Manyonga. Dit beteken dat Ruswahl Samaai die wa deur die drif sal moet trek. Samaai sal egter steeds as die gunsteling geag word met sy bestendige peil.

Hy sal sterk teenstand van Jianan Wang van China, Jeff Henderson van die VSA en Henry Frayne van Australië verwag.

Wang en Henderson het in 2018 al verder as Samaai gespring, maar het gesukkel om deurlopend goeie afstande te handhaaf.

Samaai het in Zürich by die Diamantliga-reeks se eindronde tweede klaargemaak, nadat Manyonga hom met sy heel laaste sprong om die eerste plek geklop het.

Die Suid-Afrikaners in die voorlopige span is:

Mans: Akani Simbine (100, 4x100), Ncincilili Titi (200, 4x100), Thapelo Phora (400, 4x400 gemeng), Antonio Alkana (110 m-hekkies), Cornel Fredericks (400 m-hekkies), Chris Moleya (hoogspring), Valco van Wyk (paalspring), Ruswahl Samaai (verspring), Khotso Mokoena (driesprong), Victor Hogan (diskus), Tshepang Makhethe (hamergooi), Phil-Mar van Rensburg (spiesgooi), Simon Magakwe (4x100), Henricho Bruintjies (4x100), Emile Erasmus (4x100).

Vroue: Caster Semenya (400, 800, 4x400 gemeng), Rikenette Steenkamp (100 m-hekkies), Wenda Nel (400 m-hekkies, 4x400 gemeng), Zinzi Chabangu (driesprong), Ischke Senekal (gewigstoot, diskus), Jo-Ane van Dyk (spiesgooi).

Meer oor:  Atletiek  |  Iaaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.