Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Agent: Horn wil haar onskuld bewys

Carina Horn sal nou asem ophou terwyl die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Atletiek-integriteitseenheid (AIU) sy proses volg om te bepaal of haar skorsing permanent moet wees.

Dít volg nadat Suid-Afrikaanse atletiek met ’n opkikker-skok getref is toe die AIU bekend gemaak het dat Horn, wat die nasionale rekord in die 100 m hou, positief getoets het vir die gebruik van twee verbode middels.

Carina Horn wen haar uitdun gemaklik by die Suid-Afrikaanse nasionale byeenkoms in 2018 by Tuks. Foto: Gallo Images

Sy is voorlopig geskors en sal gevolglik nie volgende week saam met die Suid-Afrikaanse atletiekspan na Doha reis vir die Wêreldkampioenskap nie.

Dié byeenkoms begin op 27 September, met die vroue se 100-uitdunne wat reeds op Saterdag 28 September beslis word.

Volgens Horn se agent, Peet van Zyl, sal Horn nou die voorgeskrewe stappe volg in ’n poging om haar onskuld te bewys.

“Die proses moet nou sy gang gaan,” het Van Zyl Dinsdag by navraag gesê.

“Alles sal volgens die reëls en regulasies gedoen word en in dié stadium het ons nie verdere kommentaar nie.”

Horn het glo die verbode middels Ibutamoren, wat as ’n groeihormoon optree, en Ligandrol (LGD-4033), wat as ’n spierverslapper dien, in haar gestel gehad.

Sy is tot Vrydag geleentheid gegee om te reageer op die klagtes teen haar en sal glo aanvoer dat die gebruik van asmamedisyne ’n aandeel daarin gehad het.

Dit gebeur wel dat atlete soms mediese kwytskelding kry om sommige medisyne, wat verbode middels kan bevat, te gebruik. Dit moet egter alles verklaar word aan die IAAF voordat die atleet dit mag begin inneem.

Die internasionale beheerliggaam bepaal dan of dit wel goedgekeur kan word of nie.

Horn se skorsing is ’n groot terugslag voor die Wêreldkampioenskap.

Die Suid-Afrikaner se peil het van haar ’n sterk aanspraakmaker gemaak om ’n plek in die eindronde van die 100 te bespreek.

Sy tel die afgelope twee jaar onder die voorste vroue in dié nommer in die wêreld en het ’n persoonlike beste tyd van 10.98 sekondes.

Sy het in 2018 onder die voorste tien vroue in die 100 getel en ook in die binnenshuise 60 m ’n tyd van 7.09 sekondes behaal, wat die tiende vinnigste in die wêreld was.

Horn het boonop op 25 Augustus in Madrid ’n tyd van 11.01, haar beste dié seisoen, gehardloop om goud te wen. Sy het toe onder andere met die VSA se Tori Bowie, wat die verdedigende wêreldkampioen en Olimpiese silwermedaljewenner is, afgereken.

Meer oor:  Verbode Middels  |  Carina Horn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.