Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Akani oefen 1ste keer in 10 weke

Die Suid-Afrikaanse naelloper en Statebondskampioen Akani Simbine het Dinsdag die eerste keer in sowat tien weke weer geoefen toe hy sy hardloopskoene op ’n gholfbaan in Kempton Park aangetrek het.

Akani Simbine storm wenpaal toe in die 100 m by Tuks se L.C. de Villiers-stadion. Foto: Reg Caldecott

Sy afrigter, Werner Prinsloo, sê die feit dat hy nie op ’n sintetiese baan sy terugkeer tot oefening kon maak nie, het glad nie saak gemaak nie. Wat wel belangrik is, is dat Simbine weer buite kon oefen nadat hy vir weke in sy woonstel vasgekeer was waar hy nie veel beweegruimte het nie. Hy het nie eens in dié tydperk ’n oefenprogram gevolg nie.

Sy fokus sal nou na die Europese atletiekseisoen draai wat in September en Oktober plaasvind nadat Wêreldatletiek dié tydperk opsygesit het om 2020 se atletiekseisoen te probeer red ná die Covid-19-pandemie. Talle byeenkomste in die Diamantliga-reeks is reeds geskrap, maar atletiek se moederliggaam sal met verkorte byeenkomste in dié gesogte reeks probeer voortgaan.

Simbine het op 14 Maart in Tuks se L.C. de Villiersstadion die 100 m in 9.91 sekondes kafgedraf in sy eerste en enigste wedloop van die jaar.

Dié tyd is steeds die vinnigste ter wêreld vir 2020 voordat die Covid-19-pandemie sy tol op byeenkomste begin eis het.

“Vir Akani om weer topfiks te word, kort ons meer tyd. Twaalf weke is nie genoeg nie. Daarom sal ons nie eens oorweeg om vroeër aan wedlope deel te neem nie.”

Prinsloo erken die beperkinge wat die nasionale staat van inperking op vlak 5 en 4 ingehou het, was veral frustrerend, maar hulle moet verby dit beweeg.

“Ten minste kan ons weer begin werk op vlak 3 van die inperking,” sê hy.

“Dit is nie ’n slegte ding om op gras te oefen nie. Ons het al in die verlede so gemaak in Kempton Park. Ek het voorheen vasgestel dat Akani later ’n beter peil sal hê wanneer hy weer op ’n sintetiese baan voortgaan met oefen. Die grootste voordeel van op gras te oefen, is dat die uitwerking op sy litte minder is.”

Prinsloo sê hy is nie te bekommerd dat Simbine moontlik heelwat vaart kwyt sal wees nadat hy so lank nie kon oefen nie.

“Ons fokus ook nou op sy vaart. Gelukkig is dit nie ’n groot probleem nie, want sodra ’n naelloper geleer het om teen ’n sekere pas te hardloop, word dit deel van sy spiergeheue. Dit gaan nou daaroor om sy liggaam weer te aktiveer.”

’n Finale besluit oor dié Tukkie se eerste wedloop, sal eers later gemaak word.

“Alles is so onseker weens die pandemie. Baie kan binne die volgende paar weke verander. Alles sal afhang van watter byeenkomste daar in September is,” sê hy.

“Die een ding wat ons nie wil doen nie, is om onnodig tyd by lughawens te spandeer of om te reis.”

Terwyl die departement van sport, kuns en kultuursake steeds skarrel om duidelikheid te gee oor watter impak vlak 3 van die inperking op sportsoorte soos atletiek het, sal Simbine geen ander keuse hê as om minstens vir die volgende paar dae op gras te oefen nie.

Die Universiteit van Pretoria se atletiekbaan is steeds gesluit terwyl die bestuur probeer om alles vlot te laat verloop vir die terugkeer van sy elite-atlete. – Sportredaksie

Meer oor:  Akani Simbine  |  Atletiek  |  Koronavirus  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.