Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Akani op koers vir Tokio-Spele, sê breier

Akani Simbine se heel onlangse tyd van 9.82 sekondes oor die 100 meter is nie amptelik erken nie, maar die laaste stukke van die legkaart waaraan hy en sy breier, Werner Prinsloo, al ’n halwe dekade aan bou, pas nou inmekaar.

Daar is iets aan die broei in Pretoria, waar dié blits al lank daaraan skaaf om op die podium te staan by die sportwêreld se grootste verhoog.

Akani Simbine glimlag breed nadat hy die 100 m gewen hy by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap by Tuks se atletiekbaan. Foto: Gallo Images

Hy het reeds drie keer vanjaar onder tien sekondes gehardloop en is tans in die sesde plek op die wêreldranglys.

Was dit nie vir ’n windlesing van agter van +2.8 m/s in die halfeindronde by die afgelope naweek se nasionale byeenkoms nie, kon Simbine selfs in die voorste plek gelê het.

Prinsloo verkies om op die positiewe te fokus.

“Dit is minder as 100 dae voor die Olimpiese Spele en ons het nou darem tyd om aanpassings te maak as ons moet,” sê Prinsloo.

“Die windlesing wat sy tyd van wettigheid beroof het, was eintlik nie vreeslik sterk nie. Die feit dat hy ’n 9.82 kon doen, is vir ons ’n rigtingwyser – dit wys dat ons op die regte pad is en moet aanhou met wat ons doen.”

Solank as wat jy jouself in die eindronde kan kry, dan het jy ’n een uit agt kans om te wen.

Prinsloo beskou die nasionale byeenkoms nie as die alfa en omega van die atletiekseisoen nie; daar is groot wêreldbyeenkomste wat wag.

“Die nasionale kampioenskap was net nog ’n bousteen na die Olimpiese Spele toe. Dit was nie ’n teiken vir ons nie, maar wel ’n aanduiding van waar ons staan in die seisoen met ons voorbereiding.

So far so good. Die Suid-Afrikaners is altyd ’n goeie maatstaf en veral die feit dat hy uitdunne, halfeindronde en eindronde kon hardloop.”

Prinsloo sê die volgende twee maande gaan kritiek wees.

Pure fokus! Akani Simbine in aksie tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskap. Foto: Gallo Images

“Ons was darem nou al by ’n Olimpiese Spele en by verskeie wêreldkampioenskappe, so ons weet presies hoeveel wedlope hy sal nodig hê in die aanloop tot Tokio. Ons moet seker maak hy kry genoeg tyd op die baan, maar die wedlope moet ook van gehalte wees.

“Ons kan nie net rondgaan en in enige plek gaan hardloop nie.”

Simbine sal binne die volgende vier weke reis na sy oefenbasis in Italië, waar hy dan sal voorberei vir die Diamantliga-reeks.

“Daar is altyd goeie mededinging. Ons moet net kyk na die Diamantliga-reeks se datums. Ons het reeds gesit en bespreek waarheen ons wil gaan, maar dit is moeilik om ver vooruit te beplan, want weens die Covid-pandemie en die regulasies verander alles vinnig.”

Prinsloo sê verder die afwesigheid van die wêreldkampioen, Christian Coleman (wat geskors is nadat hy drie opkikkertoetse binne 12 maande gemis het), in Tokio, sal hulle nie oorgerus laat nie.

“Coleman sou die gunsteling wees, maar enigiemand kan op die dag geklop word,” sê hy.

“Solank as wat jy jouself in die eindronde kan kry, dan het jy ’n een uit agt kans om te wen. Enigiemand wat in die eindronde hardloop, is ’n bedreiging.”

Simbine se Suid-Afrikaanse rekord van 9.89 staan al sedert 2016, maar Prinsloo glo ’n nuwe rekord kom binnekort.

“Dit is al vyf jaar dat ons daarnatoe werk en daar is ’n gevoel in die kamp dat dit nou die regte tyd is.”

Meer oor:  Akani Simbine  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  100 M  |  Tokio-Spele  |  Werner Prinsloo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.