Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Akani proe goud by Diamantliga-reeks in Italië
akani
Akani Simbine na sy sege Donderdagaand. Foto: Reuters

Akani Simbine het Donderdagaand sy segetog voortgesit met sy eerste plek in die 100 m tydens die Diamantliga-reeks se derde ronde.

Sy wentyd van 10.08 in Florence was nie noodwendig iets om oor opgewonde te raak nie, maar sy koelkop kan deurslaggewend wees in ’n Olimpiese jaar.

Die Statebondkampioen se laaste nederlaag was op 28 September 2019, met ’n onoorwonne seisoen wat verlede jaar gevolg het.

Simbine moes voet op die versneller sit om sy neus kort voor die eindstreep voor die Brit Chijindu Ujah (10.10) te kry, maar sal tevrede wees oor nóg ’n regmerkie agter sy naam.

Akani Simbine steek die wenstreep naelskraap voor Chijindu Ujah van Brittanje oor in die 100 m op die Diamantliga-byeenkoms in Florence. Foto: Diamond League-webblad

Emmanuel Matadi van Liberië (10.16) was derde, terwyl die Amerikaner Michael Rodgers (10.25) net ’n vyfde plek kon behaal.

Wenda Nel was net 0.04 sek buite haar seisoenbeste in die 400 m-hekkies.

Die Statebond-bronsmedaljewenner het die lyn in die vierde plek oorgesteek in 55.20.

Die wenner, Femke Bol van Nederland, se tyd van 53.44 het ’n nasionale rekord aan haar besorg.

Hoewel sy nie naby aan die Amerikaner Sydney McLaughlin se voorste tyd in die wêreld van 52.83 kon kom nie, was haar uitslag steeds genoeg vir die derde plek op die 2021-ranglys.

Sy was ook die enigste deelnemer wat onder 54 sekondes kon dip met Oekraïne se Anna Ryzhykova wat naasbeste was in 54.19 en die Brit Jessica Turner derde in 54.79.

Nel sal selfvertroue put uit die feit dat sy vir Sara Petersen, die silwermedaljewenner op die 2016-Spele in Rio de Janeiro, geklop het.

Petersen was vyfde in 55.21.

Zakhiti Nene sou nie te gelukkig wees met sy vierde plek in die 400 m in ’n teleurstellende tyd van 46.23 nie.

Dit was heelwat buite sy beste vanjaar van 45.03 met Colombië se Anthony José Zambrano wat gemaklik gewen het in 44.76.

Die Italianer Davide Re was naaste aan hom in 45.80.

Nadat sy Sondag ’n wêreldrekord in die 10 000 m opgestel het, het Sifan Hassan weer haar klas gewys, maar dié slag in die 1 500 m.

Die Ethiopies-gebore Nederlander het in 3:53.63 die voorste tyd in die wêreld gehardloop en ook haar eie byeenkomsrekord van 3:56.22, wat sy in 2017 opgestel het, oortref.

Kenia se Faith Kipyegon se tweede plek in 3:53.91 het ook ’n nasionale rekord aan haar besorg.

Die Jamaikaan Omar McLeod het ’n waarskuwing uitgestuur in die 110 m-hekkies. McLeod, wat vanjaar in Tokio sal aantree as die verdedigende Olimpiese kampioen, het sy wedloop in 13.01 gewen.

Dit is die voorste tyd in die wêreld vanjaar en het ook die byeenkomsrekord geëwenaar.

Die Rus Ilja Iwanjoek, een van die atlete wat neutrale status het, was baas in die hoogspring nadat hy suksesvol oor die dwarslat is met sy eerste poging op ’n hoogte van 2,33 m.

Die Australiër Brandon Starc en die Italianer Gianmarco Tamberi was albei ook suksesvol op dié hoogte, maar onderskeidelik met hul tweede en derde pogings.

Die tweemalige wêreldkampioen Mutaz Essa Barshim kon net ’n vyfde plek behaal nadat hy suksesvol op ’n hoogte van 2,30 m was, maar op 2,33 m uitgeval het.

Meer oor:  Florence  |  Akani Simbine  |  Atletiek  |  Diamantliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.