Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Akani Simbine storm tot goud in Rome

Ditsem Akani Simbine!

Die Suid-Afrikaanse blits het Donderdagaand sy onoorwonne vertoningslys in 2020 behou toe hy goud gewen het by die Diamantliga-byeenkoms in Rome.

Akani Simbine (links) en Marcell Jacobs van Italië (regs). Foto: Getty Images

Simbine het die wenstreep in ’n haastige 9.96 sekondes oorgesteek nadat hy aanvanklik redelik baie moes doen om die Ivoorkus se Arthur Cissé (10.04) in te haal en in sy stof te laat byt.

Die Pretorianer se wentyd was die vierde vinnigste in die wêreld vanjaar en Simbine se beste sedert hy voor die nasionale staat van inperking 9.91 in Pretoria gehardloop het.

Armand Duplantis het die nie-amptelike buitemuurse-wêreldrekord opgestel in die paalspring.

Die Amerikaans-gebore Sweed en amptelike wêreldrekordhouer is met sy tweede probeerslag oor die dwarslat op 6,15 m, net 3 cm buite sy beste wat hy binnenshuis in Februarie opgestel het.

Armand Duplantis. Foto: Getty Images

Die wêreldrekord in dié item word binnenshuis en buitemuurs as een en dieselfde erken.

Ben Broeders het ’n nuwe Belgiese rekord opgestel toe hy oor die dwarslat is op 5.80 m.

Die voormalige Olimpiese kampioen Renaud Lavillenie sukkel steeds om sy beste peil te herwin. Sy beste suksesvolle poging was op 5.70, met die Fransman wat nog nie vanjaar naby aan 6 meter kon spring nie.

Antonio Alkana kon nie Dinsdag se vertoning in Switserland herhaal nie en moes met die sesde plek tevrede wees in die 110 m-hekkies in 13.66.

Die Brit Andrew Pozzi het hier die pyp gerook in 13.15.

Die gewigstoter Zane Weir se Diamantliga-buiging het met ’n sewende plek geëindig met sy beste poging van 19,43 m wat in die vierde ronde gekom het.

Nick Ponzio van die VSA het geseëvier met 21,09 m.

Die Jamaikaan Elaine Thompson-Herah was soos ’n koeël uit die blokke in die 100 m, waar sy die voorste tyd in die wêreld in 2020 gehardloop het in 10.85 sekondes.

Die Noorweër Karsten Warholm het met ’n breukdeel van ’n sekonde verbeter op die blitstyd van 47.08 wat hy net vier dae gelede in Berlyn in die 400 m-hekkies gehardloop het.

Sy 47.07 sek. is die nuwe negende vinnigste tyd nog in dié nommer.

Daarmee saam het hy maalvleis van Abderrahman Samba se byeenkomsrekord van 47.48, wat in 2018 opgestel is, gemaak.

Warholm is egter steeds op soek na daardie ontwykende wêreldrekord-wedloop, wat hy deurlopend dreig om te lewer.

Net in 2020 het hy drie van die voorste 10 tye nog in dié nommer agter sy naam geskryf.

Jacob Kiplimo van Oeganda en Jakob Ingebrigtsen van Noorweë het vir groot opwinding gesorg in die 3 000 m.

Kiplimo se wentyd van 7 minute, 26.64 sek was nie net ’n byeenkomsrekord, Diamantliga-rekord en nasionale rekord nie, maar ook die 13de vinnigste nog, asook die haastigste sedert 2007.

Ingebrigtsen se 7:27.05, wat aan hom die tweede plek besorg het, was nie ver buite die Europese rekord van 7:26.62, wat al sedert 2000 aan die Belg Mohammed Mourhit hoort.

Yuliya Levchenko. Foto: Getty Images

Die vroue se hoogspring het aan Oekraïne se Yuliya Levchenko, wat as 18-jarige silwer op die Wêreldkampioenskap gewen het in 2017, behoort.

Sy was die enigste deelnemer wat op ’n hoogte van 1.98 m kon slaag, waarna 2.01 m ’n trappie te hoog was.

Haar landgenoot Yaroslava Mahuchikh, was naasbeste met 1,95 m.

In die mans se eweknie het Andriy Protsenko, ook van Oekraïne, ’n spannende affêre gewen toe hy suksesvol was op ’n hoogte van 2.30 m. Gianmarco Tamberi van Italië was tweede op 2.27 m.

Meer oor:  Rome  |  Akani Simbine  |  Atletiek  |  Diamantliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.