Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Akani: ‘Wen was prioriteit, nie tyd’
Akani Simbine vier sy oorwinning in die 100 m by die Diamantliga-byeenkoms in Florence. Foto: Reuters

Sy wentyd was die stadigste in die Diamantliga-reeks se 100 m in meer as drie jaar, maar dít skeel Akani Simbine min ná sy sege in Florence.

Die Suid-Afrikaner was koelkop en het oor die laaste 20 m sy voet op die versneller gesit om sy neus voor te kry en die wenstreep in ’n tyd van 10.08 sekondes oor te steek.

Dit was die stadigste wentyd in dié reeks sedert Augustus 2017 toe die Brit Chijindu Ujah ook in 10.08 in Birmingham baas was.

Die einste Ujah was een van die manne wat juis Donderdag so byna Simbine se segetog tot ’n einde gebring het.

“Die plan was niks anders as om te wen nie,” het Simbine oor sy wedloop gesê.

Dit was my eerste mededingende wedloop sedert die Suid-Afrikaanse kampioenskappe ses weke gelede. Ek is baie tevrede dat ek dadelik weer op die wenpad kon kom en so sterk geëindig het.
Akani Simbine

“Dit was my eerste mededingende wedloop sedert die Suid-Afrikaanse kampioenskappe ses weke gelede. Ek is baie tevrede dat ek dadelik weer op die wenpad kon kom en so sterk geëindig het.

Simbine het vooraf as die gunsteling in die blokke gesak nadat hy reeds vanjaar drie erkende tye onder 10 sekondes gehardloop het. In die verlede kon dié etiket ’n meulsteen om sy nek gewees het, maar dis nie meer die geval nie.

“As jy my ’n paar jaar gelede gevra het hoe ek voel as ek die gunsteling is in ’n wedloop, sou die antwoord heeltemal anders gewees het,” het hy gesê.

“Ek sou geweldig gestres gewees het, omdat ek so baie druk op myself plaas. Nou gebruik ek dit egter as motivering – mense glo in my, glo in my talent en ek gebruik dit om myself te druk en om selfs beter te word.”

Simbine sê voorts dat hy die meeste van sy Europese seisoen wil maak en daar gaan bly vir byeenkomste tot voor die Suid-Afrikaanse span na Tokio vertrek vir die Olimpiese Spele.

Sy wentyd in Florence was slegs die 10de keer in die afgelope 31 Diamantliga-byeenkomste wat die wenner nie vinniger as 10 sekondes kon hardloop nie.

Tog het die feit dat die Statebondkampioen op die wenpad gebly het, beteken dat sy laaste nederlaag oor dié afstand laas gekom het toe hy op 28 September 2019 vierde geëindig het by die Wêreldkampioenskappe in Doha.

Wenda Nel

Ujah was naasbeste in 10.10, met Emmanuel Matadi van Liberië (10.16) derde.

Die Suid-Afrikaanse 400-hekkiesatleet Wenda Nel was vierde in haar wedloop. Haar tyd, 55.20, was net 0.04 stadiger as haar beste tyd dié seisoen.

Die wenner, Femke Bol van Nederland, se tyd van 53.44 het ’n nasionale rekord aan haar besorg en was ook die derde vinnigste nog in 2021.

In die 400 vir mans het Zakhiti Nene gesukkel om die mas op te kom en hoewel hy ook vierde klaargemaak het, was sy tyd van 46.23 teleurstellend.

Colombia se Anthony José Zambrano het eerste geëindig in 44.76, ver voor die Italianer Davide Re, wat tweede was in 45.80.

Meer oor:  Akani Simbine  |  Wenda Nel  |  Diamantliga  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Naelloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.