Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Alkana én Phora val albei uit in halfeindrondes

Antonio Alkana kon nie Woensdag in Doha, Katar kwalifiseer vir die eindronde van die 100 m-hekkies nie toe hy derde in sy halfeind geëindig het by die Wêreld-atletiekkampioenskappe.

Die Suid-Afrikaner het in 13.47 sekondes die wenstreep oorgesteek in die derde wedloop, maar dit het hom algeheel die negende plek besorg, met net die voorste agt wat in Woensdagaand se eindronde (22:00) sou aantree.

Spanje se Orlando Ortega (regs) steek die wenstreep eerste oor in die 110 m-hekkies se halfeindronde met Antonio Alkana (middel) wat uitgeval het met sy derde plek. Foto: Reuters

Die Olimpiese en wêreldkampioen, Omar McLeod, was die vinnigste in 13.08 in die tweede wedloop.

Die 21-jarige Amerikaner Grant Halloway was soos ’n koeël uit die blokke in die eerste wedloop om in 13.10 sek. voor die Rus Surgey Shubenkov te eindig. Shubenkov was naasbeste in 13.18.

* Thapelo Phora kon ook nie verby die halfeindronde kom nie in die 400 m waar hy vyfde was in 45.24 sek.

Steven Gardiner van die Bahamas (44.13), Kirani James van Grenada (44.23) en Fred Kerley van die VSA (44.25) was die vinnigste.

’n Stadige tweede uitdun het beteken dat die Suid-Afrikaner Dominique Scott as een van die vyf vinnigste verloorders by die agterdeur van die 5 000 m se eindronde kon inglip.

Scott het agtste in die eerste uitdun klaargemaak in 15:05.01.

Die Keniaan Hellen Obiri, wat in 2017 goud gewen het in Londen en ook ’n Olimpiese silwermedaljewenner is, was die vinnigste in 14:52.13.

Die tweede uitdun was aansienlik stadiger met Tsehay Gemechu van Ethiopië die vinnigste in 15:01.57. Dit het Scott in staat gestel om te kwalifiseer vir Saterdag se eindronde (20:25 SA tyd).

Sifan Hassan, wat Saterdag goud gewen het in die 10 000 m, se aanslag om die eerste persoon nog te word om dubbele glorie op ’n wêreldverhoog te behaal in die 10 000, sowel as die 1 500 m, is steeds op koers.

Die Nederlander het met die grootste gemak haar plek in die halfeindronde van die 1 500 bespreek.

Ná 1 200 m het sy steeds rustig in die agtste plek aan die agterste kant van die pak gehardloop, net om oor die laaste 300 m voet in die hoek te sit en eerste te eindig in 4:03.88.

* Nege vroue het die standaard van 18,40 m oortref in die gewigstoot se kwalifiserende ronde om seker van hul plek in die eindronde te maak.

Die Jamaikaan Danniel Thomas-Dodd was veral indrukwekkend met haar derde poging van 19,32 m, terwyl die VSA se Maggie Ewen ook beïndruk het met haar eerste gooi van 19,21 m.

Lijiao Gong van China, die verdedigende kampioen, het ook net een poging nodig gehad om te kwalifiseer met 18,96 m.

Sandra Perkovic spog reeds met twee goue Olimpiese medaljes (2012 en 2016) en ook twee wêreldtitels (2013 en 2017) in die diskusgooi, maar sal dié slag desperaat wees om haar titel te verdedig nadat sy in 2015 silwer gewen het.

Sy het in die kwalifiserende ronde net een poging nodig gehad om haar tot die eindronde te bevorder toe sy 65,20 m gegooi het.

Denia Caballero van Kuba, wat haar in 2015 geklop het om die eerste plek, staan weer in haar pad nadat sy in die kwalifiserende ronde ook nie veel gesweet het nie en met haar tweede poging die skyf tot 65,86 m laat trek het.

* Suid-Afrika het in 2017 in Londen in die derde plek op die medaljetabel geëindig met ses (drie goud, een silwer en twee brons), maar staan na ses dae steeds met leë hande in Doha.

Die kans om enigsins ’n medalje te verower, lyk al hoe meer bitter bleek.

Suid-Afrikaners wat Donderdag deelneem:

Orazio Cremona – Gewigstoot, kwalifisering (19:40).

Meer oor:  Katar  |  Doha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.