Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Alle atletiek in SA vir 2 weke opgeskort

Alle atletiekbedrywighede in Suid-Afrika moet onmiddellik vir die volgende twee weke gestaak word.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) het Maandag dié opdrag gee te midde van die land se stygende koronavirusgevalle.

Alle atletiekbedrywighede is vir die volgende twee weke opgeskort, sê ASA. Foto: Gallo Images

Dít volg net ’n week nadat Aleck Skhosana, ASA se president, aan Netwerk24 gesê het dat alle byeenkomste, selfs vir skole, nog mag voortgaan, solank dit aan die regering se regulasies voldoen.

“Weens die verslegting van die gesondheidsituasie wat deur die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie te weeg gebring word, het ASA die besluit geneem dat alle atletiekbedrywighede in die land vir die volgende twee weke opgeskort word,” sê Skhosana in ’n verklaring.

Dié besluit raak ASA se uitdunne vir landloop wat die naweek in Potchefstroom gehou sou word.

’n Nuwe datum sal later aangekondig word.

“ASA het gehoop dat die hervatting van ons gewone kalender vir 2021 teen dié tyd ’n moontlikheid sou wees, maar ongelukkig moet ons nou eers die hoë infeksiekoers in die land hanteer.”

Skole sal eers op 15 Februarie open weens kommer oor die nuwe Covid-19-variant wat makliker versprei.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 11 Januarie die land op vlak 3 van die nasionale staat van inperking gehou, maar met sekere wysigings. ASA sê dat dié besluit veral vir die nasionale atletiekliggaam beklemtoon het hoe gevaarlik die situasie is waarin die land hom bevind.

“ASA kan nie die ernstige situasie ignoreer waarin Suid-Afrika hom bevind weens die stygende infeksies en sterftes nie,” sê Skhosana.

“Dit is daarom, in ’n poging om lewens te red, dat ASA alle atletiekbedrywighede opskort.”

ASA sal weer op 7 Februarie oor dié kwessie vergader nadat hulle met mediese kenners en die betrokke departemente van die regering geskakel het.

Goeie nuus vir atlete is dat oefening steeds toegelaat word, mits dit aan Covid-19-regulasies voldoen.

“Ons hoop dat die situasie binnekort sal verbeter en ons ná afloop van dié twee weke weer sal kan voortgaan met die volledige kalender (van byeenkomste).”

Meer oor:  Atletiek  |  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.