Atletiek Suid-Afrika (ASA) het sy stem gevoeg by die huldeblyke vir Mluleki George, die veteraan-politikus en sportadministrateur, wat Maandag in die ouderdom van 72 aan Covid-19 beswyk het.

Wyle Mluleki George. Foto: Argief
Luidens ’n nuusverklaring wat Woensdagaand deur ASA uitgereik is, was George sedert 1995 tot en met sy afsterwe ’n ereraadslid van ASA.
Hy was nooit tot ’n posisie binne atletiek se beheerliggaam verkies nie, maar het ’n bydrae gelewer in die proses van eenwording in dié sportkode toe Suid-Afrika op pad was na ’n volwaardige demokrasie in 1994.
“Atletiek het ’n kampvegter van eenheid en ons hernieude stabiliteit, tot en met sy afsterwe, verloor,” het Aleck Skhosana, president van ASA, in ’n nuusverklaring gesê.
“Hy was ’n visioenêre persoon en ’n ensiklopedie van sport. Dis daarom dat hy ’n ereraadslid van ASA was. Sy rol in atletiek en sport in die algemeen moet nooit vergeet word nie. Ons bedank sy familie vir ’n mens wat eenheid geskep het en deel hul smart.” – Sportredaksie