Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
ASA kies Semenya, Van Niekerk

Caster Semenya is Maandag in Atletiek Suid-Afrika (ASA) se voorlopige span ingesluit vir volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio.

Ofskoon haar deelname suiwer in die hande van die Switserse federale hooggeregshof lê, bly ASA hoopvol oor Semenya se moontlike deelname.

Caster Semenya is in Atletiek Suid-Afrika (ASA) se voorlopige oefengroep vir die 2020 Olimpiese Spele in Tokio ingesluit. Foto: Gallo Images

Dié tweemalige Olimpiese kampioen in die 800 m sal egter eers vroeg in 2020 weet wat haar lot is en of sy kan voortgaan om aan die 400, 800 en 1 500 deel te neem sonder om haar natuurlike hoë testosteroonvlakke met medisyne te verlaag.

Dat Semenya suksesvol gaan wees in haar aansoek waar sy die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se beslissing in die guns van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) teenstaan, lyk egter onwaarskynlik.

Waar die Switserse federale hooggeregshof aanvanklik vir Semenya toegelaat het om soos normaalweg deel te neem terwyl die saak afgehandel word, het ’n Switserse regter later ’n stokkie daarvoor gesteek en die Suid-Afrikaner het gevolglik die Wêreldkampioenskap in September in Doha misgeloop.

ASA se voorlopige groep bestaan uit 39 atlete (28 mans en 11 vroue) vir die individuele nommers, met 17 ander wat in die aflosspanne is.

Nog ’n naam wat uitstaan, is dié van die 400-wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk.

Van Niekerk is in Oktober 2017 beseer tydens ’n vriendskaplike raakrugbywedstryd op Nuweland en het eers vanjaar geleidelik weer die water getoets op die baan.

Hy het egter aan geen internasionale wedlope deelgeneem nie en word in watte toegedraai om te verseker dat hy gereed is wanneer die Olimpiese Spele in Julie aanbreek.

Akani Simbine (100), Stephen Mokoka (marathon), Luvo Manyonga en Ruswahl Samaai (albei verspring) is ook ingesluit.

Hulle het almal onder die voorste vyf geëindig in Doha.

Volgens ASA is die voorlopige span gekies gebaseer op atlete se peil in 2019. Dié atlete se vertonings sal vorentoe noukeurig dopgehou word deur ASA se hoëprestasie-afdeling.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) sal egter die finale sê oor die span hê kort voordat hulle na Tokio vertrek.

“Daar word baie van dié span verwag nadat ons geen medaljes in Doha kon wen nie,” het Aleck Skhosana, ASA-president, gesê.

“Die Olimpiese Spele gaan ’n nuwe kompetisie wees, selfs vir dié wat as wêreldkampioene gekroon is by die Wêreldbyeenkoms.”

Gerda Steyn se uitstekende vertoning by Sondag se New York-marathon het haar ook ’n plek in die span besorg.

Steyn, die Comrades- en Twee Oseane-kampioen, het die Olimpiese Spele se kwalifiserende tyd behaal in 2:27:48. Dit was ’n persoonlike beste tyd en ook die eerste keer in haar loopbaan wat sy onder 2 uur en 30 minute gehardloop het.

Die voorlopige span vir die Olimpiese Spele is:

Mans: Akani Simbine (100, 4x100); Simon Magakwe (100, 4x100), Thando Dlodlo (100, 4x100), Clarence Munyai (200, 4x100), Anaso Jobodwana (200, 4x100), Luxolo Adams (200), Wayde van Niekerk (400), Thapelo Phora (400, 4x400), Derrick Mokaleng (400, 4x400), Gardeo Isaacs (400, 4x400), Tsepo Tshite (800), Rynardt van Rensburg (800), Rantso Mokopane (3 000-hindernis), Antonio Alkana (110-hekkies), Sokwakhana Zazini (400-hekkies), Lindsey Hanekom (400-hekkies), Zarck Visser (verspring), Luvo Manyonga (verspring), Ruswahl Samaai (verspring), Orazio Cremona (gewigstoot, Kayle Blignaut (gewigstoot), Victor Hogan (diskus), Lebogang Shange (20 km-stap), Wayne Snyman (20 km-stap), Stephen Mokoka (marathon), Elroy Gelant (marathon), Desmond Mokgobu (marathon), Marc Mundell (50 km-stap), Chederick van Wyk (4x100), Sinesipho Dambile (4x100), Thando Roto (4x100), Ranti Dikgale (4x400, 4x400-gemeng), Jon Seeliger (4x400, 4x400-gemeng), Lythe Pillay (4x400, 4x400-gemeng), Pieter Conradie (4x400, 4x400-gemeng), Ashley Hlungwani (4x400).

Vroue: Tebogo Mamathu (100, 4x100), Rikenette Steenkamp (100-hekkies, 4x100), Wenda Nel (400-hekkies, 4x400-gemeng), Rogail Joseph (400-hekkies), Zenéy van der Walt (400-hekkies, 4x400-gemeng), Caster Semenya (800), Dominique Scott (5 000), Lynique Beneke (verspring), Sunette Viljoen (spiesgooi), Gerda Steyn (marathon), Nolene Conrad (marathon), Tamzin Thomas (4x100), Taylon Bieldt (4x100, 4x400-gemeng), Rose Xeyo (4x100), Antoinette van der Merwe (4x100), Rea Moloi (4x100), Petunia Obisi (4x100), Danel Holton (4x400-gemeng).

Meer oor:  Tokio  |  Tokio-Spele  |  Japan  |  Caster Semenya  |  Akani Simbine  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.