Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
ASA krap kop oor vlak 3-regulasies

Suid-Afrika se skuif Maandag na vlak 3 van die nasionale staat van inperking, en die uitwerking daarvan op atletiek, is nog hopeloos te onduidelik.

Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika, sit met meer vrae as antwoorde ná die land se skuif na vlak 3 van inperking. Foto: Gallo Images

So meen Aleck Skhosana, die president van Atletiek Suid-Afrika (ASA). Dié organisasie wonder steeds wat die pad vorentoe vir dié sportsoort is.

Ingevolge vlak 4 se regulasies was al ASA se byeenkomste uit- of afgestel, met die enigste silwer randjie dat atlete soggens tussen 06:00 en 09:00 kon oefen in hul direkte omgewing.

Vlak 3 se regulasies het dié maatreëls verslap met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat verlede week gesê het nie-kontaksportsoorte kan weer voortgaan en kontaksporte mag begin oefen onder streng voorwaardes.

Skhosana sê die regering was hopeloos te vaag oor wat die regulasies vir atletiek inhou.

“Wat die regulasies betref, soos wat dit aan ons oorgedra is, is ons in dié stadium nog baie onseker en sal ons in gesprekke (met die regering) moet tree,” het Skhosana gesê.

“Ons het byvoorbeeld gehoor dat die gebiede wat brandpunte is, nie met sportoefeninge mag voortgaan nie. Maar atletiek word in dié metro’s beoefen. So ons weet nie of dit op atletiek van toepassing is nie.

“Ons probeer om dit te verstaan. Ek het met die Universiteit van Pretoria en joernaliste gepraat om sin te probeer maak, maar almal is net so deurmekaar soos ons.”

Skhosana sê dat Dlamini-Zuma se aankondiging nie veel antwoorde verskaf het nie.

“Volgens Nkosazana Dlamini-Zuma kan net ‘professionele atlete en wedstryde’ voortgaan. Maar wat beteken dit? Wat behels die term ‘wedstryde’? Verwys dit ook na atletiekbyeenkomste? Ons weet nie, want dit is onduidelik.”

Skhosana sê daar is verdere onduidelikheid oor kwessies soos atlete wat moet reis.

“Gaan atlete toegelaat word om tussen metro’s rond te beweeg om by die stadions uit te kom? Gaan al die stadions oopgemaak word?

“Sal die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Johannesburg toegelaat word deur hul munisipaliteite om hul stadions oop te maak?”

Hy sê dat die heropening van stadions ook vrae rakende die veiligheid van die atlete opper. Dit sluit in die aanstelling van werkers wat seker moet maak dat die atlete veilig is en nie blootgestel word aan Covid-19 nie.

“As stadions ekstra mense moet aanstel, gaan die plaaslike munisipaliteite en regerings help om dié mense te betaal?” het hy ook gevra.

Skhosana het verlede maand gesê hy wil 2020 se atletiekseisoen tot ’n mate probeer red en beoog steeds om die nasionale kampioenskappe vir seniors, juniors- en jeugatlete aan te bied.

Maar ASA weet nie of hy nou al die jawoord sal kry en of hy sal moet wag vir Wêreldatletiek se venstertydperk vir nasionale byeenkomste in Augustus om die Suid-Afrikaanse kampioenskappe te kan hou nie.

Die internasionale liggaam het die naweek van 8 en 9 Augustus opsygesit vir lande om hul plaaslike nasionale kampioenskappe aan te bied voordat die internasionale seisoen amptelik in September en Oktober wegtrek.

* Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Maandag in ’n verklaring gevra dat nasionale sportliggame geduldig moet wees terwyl hulle wag vir meer inligting wat die regulasies behels.

“Die departement van sport, kuns en kultuur gebruik die geleentheid om verdere geduld en verdraagsaamheid te vra terwyl die aanwysings, soos deur die minister aangekondig is, steeds onderteken word en nog in die staatskoerant gepubliseer moet word,” het Mthethwa gesê.

“Sodra dié proses afgehandel is, sal dit amptelik aan alle belanghebbendes gestuur en vrygestel word.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Asa  |  Inperking  |  Aleck Skhosana  |  Covid-19  |  Atletiek Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.