Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
ASA laai o.20-groep met naellopers

Atletiek Suid-Afrika (ASA) het Woensdag ’n sterk oefengroep aangewys met die oog op die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se o.20-Wêreldkampioenskappe in 2020.

Dié byeenkoms word van 7 tot 12 Julie in Nairobi, Kenia, gehou.

ASA het geensins teruggehou nie en ’n groep van 48 belowende atlete gekies, wat deur die loop van die 2019-seisoen met hul prestasies beïndruk het.

ASA het geensins teruggehou nie en ’n groep van 48 belowende atlete gekies, wat deur die loop van die 2019-seisoen met hul prestasies beïndruk het.

Dis veral die baanatlete wat die oog van die keurders gevang het, met nie minder nie as 45 wat gekies is.

Onder die mans tel name soos Luke Davids, wat in 2018 goud gewen het in die 100 m op die Olimpiese Jeugspele in Buenos Aires.

Nog twee uitblinkers vanjaar, Sinesipho Dambile en Eckhart Potgieter, het ook die voorlopige span gehaal.

Dambile beklee die voorste plek op die IAAF se o.18-wêreldranglys in die 200 m nadat hy in Maart ’n verstommende tyd van 20.43 sekondes gehardloop het.

Hy het ook ’n blitsige 46.48 agter sy naam in die 400 – die sewende vinnigste tyd vanjaar in sy ouderdomsgroep ter wêreld.

Potgieter tel onder die wêreld se voorstes in die 100 (10.54), sowel as die 200 (21.03), waar hy onderskeidelik 24ste en negende is.

Tuks Sportskool se Thabang Hlohlo vroeër vanjaar op pad na sy sege in die 100 m vir o.17’s op Tuks se Top10-byeenkoms.Foto: Marius Nortjé

Thabang Hlohlo, wat die agtste plek op die 100-ranglys beklee in 10.44, is ook in die span ingesluit.

Die jong sensasie Lythe Pillay, wat al baie van Wayde van Niekerk se ou rekords aan flarde genael het, spog vanjaar met ’n beste tyd van 46.26 in die 400 – die naasvinnigste tyd in die wêreld vir o.18’s.

Die paalspringer Kyle Rademeyer, wat die SA jeugrekord vanjaar verbeter het, is die enigste veldatleet onder die mans.

Wat die vroue betref, het Suid-Afrika ook ’n gedugte groep.

Prudence Sekgodiso is in die vierde plek op die wêreldranglys in die 800 nadat sy in Maart ’n tyd van 2:03.98 aangeteken het.

Carmie Prinsloo se 4:19.45 in die 1 500 gee aan haar die agtste plek, terwyl Sekgodiso die 29ste plek beklee in dié item met ’n tyd van 4:24.52.

Angelique Strydom se 23.92 in die 200 maak van haar die 45ste vinnigste atleet in die wêreld in dié item vir o.18’s, terwyl Amy Naudé die 48ste plek in die 400 beklee (54.29).

Die spiesgooiers Savannah Combrinck en Jana van Schalkwyk is die enigste vroue-veldatlete in die groep.

Suid-Afrika het op die o.20-Wêreldbyeenkoms – in 2018 in Finland – ’n sesde plek op die medaljelys behaal.

Toe is Sokwakhana Zazini en Zenéy van der Walt in die 400-hekkies as wêreldkampioene gekroon, terwyl Kyle Blignaut met goud in die gewigstoot huis toe is.

Die voorlopige oefengroep is:

Mans: Luke Davids (100, 200, 4x100), Phathutshedzo Maswaganyi (100, 200, 4x100), Sifiso Miya (100, 4x100), Thabang Hlohlo (100, 4x100), Sinesipho Dambile (200, 4x100), Mosuwe Hlongwane (200, 4x400), Elviano Johnson (200), Nthakuseni Vilankulu (200), Echardt Potgieter (200, 4x100), Adrian Swart (200, 400, 4x400), Lythe Pillay (400, 4x400), Antonie Nortjé (400, 4x400), Tshegofatso Mwagu (800), Michael Schoeman (110-hekkies), Gert du Plessis (400-hekkies), Liam Pietersen (400-hekkies), Marthinus du Preez (400-hekkies), Kyle Rademeyer (paalspring), Mbhoni Mabunda (4x100), Keenan Cloete (4x100), Thato Phasha (4x400), David Seete (4x400), Romeo van Wyk (4x400), Jayson Weber (4x400).

Vroue: Rose Xeyi (100, 4x100), Antoinette van der Merwe (100, 100-hekkies), Angelique Strijdom (200, 4x100, 4x400), Charlize Eilerd (200, 4x100), Miandi van Staden (200, 4x100), Amy Naudé (400, 4x400), Chinique Brown (400), Elke van der Westhuizen (400), Prudence Sekgodiso (800, 1 500, 4x400), Nicole Louw (1 500), Carmie Prinsloo (1 500), Gontse Morake (400-hekkies), Marzaan Loots (400-hekkies), Savannah Combrinck (spiesgooi), Jana van Schalkwyk (spiesgooi), Nosipho Malinga (4x100), Nicola van der Merwe (4x100), Jessica Bompas (4x100), Remoneilwe Pasha (4x100), Carla Hattingh (4x400), Lené van Heerden (4x400), Sue-Marie Claasen (4x400), Lethabo Veldman (4x400), Janke van Schalkwyk (4x400).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.