Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Misoes in Doha
Atletiek SA moet dink oor seisoen

Suid-Afrika se aanslag by 2019 se weergawe van atletiek se Wêreldkampioenskapsbyeenkoms was teen gistermiddag niks kort van ’n ramp nie.

Ná die sukses van 2017 waar die derde plek op die medaljelys beklee is, was daar teen gistermiddag nie veel om oor huis toe te skryf vir die suidpunt van Afrika nie.

Suid-Afrika se Ruswahl Samaai kon net ’n afstand van 7.23 m in die verspring behaal en het vyfde in Doha geëindig met sy spanmaat Luvo Manyonga vierde (8.28 m).Foto: gallo images

Die afwesigheid van Wayde van Niekerk en Caster Semenya het al voor die byeenkoms die gevaarligte laat flikker, maar Suid-Afrika het steeds buitengewoon harde bene gekou.

Lindsay Hanekom (400-hekkies), Simon Magakwe, Thando Dlodlo (albei 100), Anaso Jobodwana, Clarence Munyai (albei 200), Tshepo Tshite (800), Antonio Alkana (110-hekkies), Derrick Mokaleng, Thapelo Phora (albei 400), Rantso Mokopane (3 000-hindernis) en Orazio Cremona (gewigstoot) kon dit nie tot die eindrondes van hul items maak in die mansafdeling nie.

Tebogo Mamathu (100), Sunette Viljoen (spiesgooi) en Zenéy van der Walt (400-hekkies) het ook gesukkel in die uitdunrondes.

Rikenette Steenkamp kan op die skouer geklop word nadat sy in 12.97 sekondes ¬– ’n seisoenbes­te – vir die halfeindronde van die 100 m­-hekkies gekwalifiseer het in haar buiging by dié byeenkoms.

Die realiteit is egter dat dit vir meeste van dié atlete al die agtste maand van hul sportseisoen is en die bene nou al swaar begin sleep.

Suid-Afrika moet dalk herbesin oor sy atletiekseisoen in jare waarin groot kampioenskapsbyeenkomste soos die Olimpiese Spele, Wêreldkampioenskap en Statebondspele gehou word.

Verlede jaar was die reënboog­nasie gelukkig met die Statebondspele wat saam met die plaaslike atletiekseisoen geval het.

Die 28 medaljes wat die atletiekspan toe in April huis toe gebring het vanaf die Goudkus in Australië, spreek boekdele van daardie guns­tige tye.

Dan was die peil van sommige atlete ook lank voor die naweek se byeenkoms onder verdenking.

Luvo Manyonga moet dalk oorweeg om weer aan die deur van sy voormalige breier, Neil Cornelius, te gaan klop en by hom kers op te steek.

Cornelius het Manyonga afgerig toe hy die silwermedalje in 2016 in Rio de Janeiro verower het. Hy het ook die verspringer tot sy goue medalje by 2017 se Wêreldkampioenskap in Londen gelei. Hy het boonop in dieselfde jaar die Afrika-rekord tot 8,65 m verbeter.

Die twee se paaie het egter in Maart 2018 geskei, met Manyonga wat sak en pak na Port Elizabeth is.

Sedertdien was daar ’n merkwaardige afname in die afstande wat hy kon behaal en sy swak peil in die Diamantliga-reeks vanjaar is net so oorgedra na Doha. Sy beste poging in Katar was 8,28 m en sy beste vanjaar 8,37.

Ja, hy het in 2018 daarin geslaag om sy Diamantliga-titel te verdedig, maar die krake het reeds begin wys. Sy beste verlede jaar was 8,58 m.

Dieselfde geld vir Viljoen, wat nie meer deur Tertius Liebenberg afgerig word nie en nou as haar eie breier optree. Sy het in die kwalifiserende rondes van die spiesgooi uitgeval met ’n teleurstellende afstand van 60,10 m.

Meer oor:  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.