Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
ASA pas 2021 se atletiek-kalender aan

Atletiek Suid-Afrika het 2021 se plaaslike atletiekkalender aangepas nadat die land se nasionale inperkings tot vlak 1 verslap is.

Akani Simbine sal die Suid-Afrikaanse aflosspan tot op die aflos-wêreldbyeenkoms in Mei op die podium wil help. Foto: Gallo Images

Die datums van verskeie byeenkomste is verander, terwyl enkele nuwe byeenkomste bygevoeg is.

Die Nasionale Senior Kampioenskap is met ’n enkele dag vervroeg en sal nou van 15 tot 17 April duur.

Die byeenkoms is gereël om in Pretoria in Pilditch se stadion plaas te vind, maar Netwerk24 het verneem dat die opknappingswerk aan dié stadion moontlik nie betyds klaar sal wees nie. In so ’n geval sal dit dan na Tuks skuif.

Net soos die seniors, sal die o.16- tot o.20-byeenkoms ook met ’n dag tot 7 April vervroeg word.

Die byeenkoms, wat vir die Dal Josaphat-stadion in die Paarl beplan word, sal dan tot 10 April duur.

Daar is egter onsekerheid oor wanneer die laerskole se nasionale byeenkoms gaan plaasvind.

Dit was oorspronklik bedoel om van 23 tot 24 April in Pietermaritzburg aangebied te word, maar is nou onbepaald uitgestel, hoewel die gasheerstad dieselfde sal bly.

Olimpiese hoopvolles sal egter dankbaar wees vir die twee nuwe byeenkomste wat tans vir Maart in die Ruimsig-stadion beoog word.

Ofskoon die datums nog vasgestel moet word, behoort dit atlete die kans te gee om hulle vir die Olimpiese Spele te slyp, terwyl dit ook ekstra geleentheid bied aan dié atlete wat nog aan die kwalifiserende vereistes moet voldoen om ’n plek in die nasionale span vir die Tokio-Spele te behaal.

“Ons atlete is grootliks nie op dieselfde vlak in hul voorbereiding as dié in ander dele van die wêreld nie,” het Aleck Skhosana, president van ASA, in ’n verklaring gesê.

“Die rede is dat ons nasionale inperking redelike beperkings op ons vordering geplaas het.

“Dit is egter nie net in Suid-Afrika die geval nie, want in die enkele lande wat dit al kon doen, is daar ook baie ander atlete oor die wêreld heen wat sukkel om toegang tot internasionale byeenkomste te kry.

Ons atlete is grootliks nie op dieselfde vlak in hul voorbereiding as dié in ander dele van die wêreld nie.
Aleck Skhosana

Skhosana het gesê hy het egter al wel ’n verbetering in die atlete opgemerk sedert die inperkingsmaatreëls verslap is.

Hy moedig skole-atlete ook aan om hulle by klubs aan te sluit sodat hulle aan byeenkomste kan deelneem en fiks bly.

Die res van 2021 se kalender sluit verskeie nasionale padwedloop-kampioenskappe in.

Die lys van bepalings sluit onder meer die Nelson Mandelabaai-halfmarathon-kampioenskap in, wat op 1 Mei in Gqeberha (Port Elizabeth) gehou sal word.

Dié byeenkoms sal ook ASA se halfmarathon-kampioenskap insluit.

Die Kaapstad-marathon, tans vir 17 Oktober gereël, sal op sy beurt weer ASA se marathon-kampioenskap insluit, terwyl die Durban-10 km-CityRun op 31 Oktober ook deel van ASA se 10 km-kampioenskap sal vorm.

Die Nasionale Landloopkampioenskap sal op 18 September in Durban gehou word.

Die Olimpiese-skouspel in Tokio (30 Julie tot 8 Augustus) sal die trekpleister in die internasionale seisoen wees.

Suid-Afrika sal ook in Wêreldatletiek se aflos-kampioenskap in Silesië, Pole sy slag wil wys. Dié byeenkoms word op 1 en 2 Mei beslis.

In hierdie stadium sal Algerië gasheer speel vir die Afrika-kampioenskap van 1 tot 5 Junie, terwyl die o.20-wêreldkampioenskap van 17 tot 22 Augustus in Nairobi, Kenia gehou sal word.

Meer oor:  Aleck Skhosana  |  Atletiek Suid-Afrika  |  Olimpiese Spele  |  Asa  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.