Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
ASA: ‘Ruk jouself reg, Luvo!’

Dit is nie net atletiek se integriteitseenheid (AIU) wat na Luvo Manyonga op soek is nie, maar Atletiek Suid-Afrika (ASA) is self “erg bekommerd” oor die voormalige wêreldkampioen en kon hom nog nie opspoor nie.

Aleck Skhosana, president van ASA, sê dat dié verspringer homself vinnig sal moet regruk indien hy nie ’n tragiese einde wil skryf aan wat eens na ’n sportsprokie gelyk het nie.

Luvo Manyonga in aksie by 2019 se Wêreldkampioenskap in Doha. Foto: Getty Images

Manyonga, wat Vrydag sy 30ste verjaardag gevier het, is voorlopig uit atletiek geskors nadat hy drie keer binne 12 maande opkikkermaatreëls oortree het. Dit het betrekking gehad tot sy beskikbaarheid vir toetse.

Die skorsing is deur die AIU opgelê nadat Manyonga binne dié tydperk drie opkikkertoetse misgeloop het en versuim het om vir toetsbeamptes in te lig oor waar hy homself bevind het.

“Ons is uiters bekommerd oor Luvo,” het Skhosana Maandag gesê.

Ons hoop dat hy homself sal regruk en doen wat reg is vir hom, vir sy reputasie en ook alles wat hy in die verlede bereik het.

“Ons het nou al alles probeer om hom in die hande te kry, maar met geen sukses nie. Ons het sy agent (Lee-Roy Newton) probeer kontak, net om uit te vind dat hul paaie verlede jaar geskei het. Ons het selfs aan ons kantoor opdrag gegee om vir Luvo op Twitter en al sy sosiale media-platforms te probeer opspoor.”

“In 2020 is ons deurlopend deur sy voormalige agent op hoogte gehou van sy doen en late. Hy het ons vertel dat Luvo ’n insinking beleef het en na rehabilitasie gegaan het,” sê Skhosana.

“Ons hoop dat hy homself sal regruk en doen wat reg is vir hom, vir sy reputasie en ook alles wat hy in die verlede bereik het.”

Dié Suid-Afrikaner was voorheen ’n groot suksesverhaal nadat hy ’n stryd teen dwelmmisbruik oorwin en daarna die silwermedalje in Rio de Janeiro by die Olimpiese Spele in 2016 verower het.

Hy het dit ’n jaar later opgevolg met die goue medalje in Londen tydens die Wêreldkampioenskap en is in 2018 as die Statebondkampioen gekroon.

Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika, is bekommerd oor Luvo Manyonga. Foto: Gallo Images

Sy peil het egter sedert 2018 geleidelik agteruit begin gaan en in 2019 kon hy nie die podium bestyg by die Wêreldbyeenkoms in Doha nie.

“Ek is vreeslik bekommerd oor wat Luvo tans aanvang. Hy is ’n verspringer en nog jonk genoeg om te presteer en sy potensiaal te bereik,” sê Skhosana.

“Hy moet egter self besluit of hy weer op die regte pad wil kom. Dit is sy verantwoordelikheid om hulp te soek en diegene te respekteer wat hom wil help en hom uit hierdie slegte gewoonte wil kry.”

Skhosana sê dat Manyonga kontakbesonderhede van ’n nuwe persoon aan hulle verskaf het vir ingeval ASA hom sou wou bereik, maar dié nommer was ook nie van hulp nie.

Tensy Manyonga teen sy skorsing appelleer en ’n goeie verduideliking kan verskaf oor waarom hy versuim het om toetsbeamptes in te lig oor waar hy hom bevind het, sal hy die Spele in Tokio misloop en daarmee saam sal sy hoop op Olimpiese glorie ook vervaag.

Normaalweg sal dié soort skorsing ’n maksimum van twee jaar wees, maar nadat Manyonga in 2012 vir 18 maande geskors is toe hy positief vir ’n dwelm getoets is tydens ’n byeenkoms, kan sy skorsing nou tot vier jaar verdubbel word.

Meer oor:  Atletiek  |  Luvo Manyonga  |  Atletiek Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.