Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wat jy moet weet oor SA se hervatting

Atletiek maak volgende maand sy terugkeer op plaaslike bodem wanneer die Noordwes-Universiteit se Kenneth McArthur-stadion op Dinsdag 3 November gasheer vir ’n provinsiale liga-byeenkoms is.

Rocco van Rooyen, ’n tweemalige Suid-Afrikaanse kampioen en Olimpiese atleet, skaaf by sy huis in Durbanville in Julie terwyl alle atletiekbyeenkomste in Suid-Afrika gestaak was. Foto: Gallo Images | Roger Sedres

Die Universiteit van Pretoria (Tuks) en die Dal Josaphat-stadion in die Paarl sal op 4 November ook liga-byeenkomste aanbied vir onderskeidelik Noord-Gauteng en die Westelike Provinsie, met verskeie padwedlope vir langasems wat oor daardie naweek ook sal volg.

Maar hoe gaan die “nuwe normaal” lyk wanneer atlete die eerste keer in bykans agt maande weer in hul spykerskoene en hardlooptekkies mag deelneem?

• Byeenkomste by stadions

Saam met die terugkeer van baan- en velditems kom ’n magdom streng regulasies wat Atletiek Suid-Afrika (ASA) ingestel het om te verseker dat die veiligheid van die atlete en beamptes voorkeur geniet tydens die Covid-19-pandemie.

Die belangrikste hier is dat net ’n maksimum van 500 mense (wat atlete, tegniese beamptes, vrywilligers, mediese personeel, media en stadionwerkers insluit) toegelaat sal word per byeenkoms. Net soos ander sportgeleenthede in Suid-Afrika, sal geen toeskouers byeenkomste mag bywoon nie.

Voordat deelnemers kan opruk, moet alle stadions 72 uur voor ’n byeenkoms van hoek tot kant skoongemaak en ontsmet word, insluitend die areas waar velditems soos die hoogspring, paalspring en verspring gehou word.

Ná dié skoonmaakproses mag geen verdere oefening binne die stadion toegelaat word voor die byeenkoms nie.

Nakomingsbeamptes, wat moet seker maak dat al die veiligheidsmaatreëls gevolg word, sal vir elke item aangestel word.

Hulle werk sal onder meer wees om die tegniese beamptes op te lei oor watter regulasies gevolg moet word.

Op die dag van die byeenkoms moet ontsmettingsmiddels by elke ingang beskikbaar wees met atlete, afrigters en beamptes wat eers toegang sal verkry indien hulle ’n siftingsproses geslaag het en hulle temperatuur onder 38 °C is.

Sou ’n atleet se liggaamstemperatuur hoër as 38 °C wees, sal hulle onmiddellik in kwarantyn geplaas word, waar ’n plaaslike mediese beampte hulle sal monitor.

Sou ’n atleet se liggaamstemperatuur hoër as 38 °C wees, sal hulle onmiddellik in kwarantyn geplaas word.

Waar sommige stadions se opwarmingsareas onderdak in vertrekke binne die stadion is, sal dié ook nie gebruik mag word nie. Die opwarmingsareas moet nou in die buitelug wees, met net 100 mense wat op ’n slag daarbinne toegelaat sal word.

Maskers moet ten alle tye gedra word en mag net verwyder word wanneer die atlete deelneem. Vir velditems sal atlete net hul maskers mag afhaal wanneer dit hul beurt is om deel te neem en sal hulle dit weer moet aansit wanneer die volgende atleet aantree.

Daar mag boonop ook geen gelukwensings deur middel van fisieke kontak wees nie.

Alle wegspringblokke, stophorlosies, afsitters en hekkies moet ná elke wedloop ontsmet word, terwyl matte en toerusting wat by velditems gebruik word, ná elke poging skoongemaak moet word.

Badkamers moet ook deurlopend ontsmet word met net ’n sekere getal mense wat op een slag die geriewe sal mag gebruik.

• Padwedlope en landloop-byeenkomste

Net soos by byeenkomste binne stadions, sal ’n nakomingsbeampte vir elke wedloop aangestel word, met atlete wat hier ook net toegang sal kry mits hulle dieselfde siftingsproses slaag.

’n Maksimum van 500 atlete word per byeenkoms toegelaat, hoewel hierdie getal in Desember hersien sal word.

’n Maksimum van 500 atlete word per byeenkoms toegelaat.

Wenners sal egter nie hul oomblik van glorie voor ander deelnemers kan vier nie, met geen pryse wat by die wedlope uitgedeel mag word nie en prysgeld wat elektronies oorbetaal sal word.

Al dié byeenkomste sal veelvuldige wegspringe gebruik om te verhoed dat groot groepe gelyktydig by die wegspringpunte saamdrom.

Net een waterpunt mag gebruik word waar vrywilligers met die waterbottels en watersakkies sal help. Dié moet ook 72 uur voor die wedloop al voorberei en veilig gestoor word. Al die vrywilligers wat met die water werk, moet handskoene dra en sal ook ’n siftingsproses moet ondergaan.

Waterbottels en sakkies mag ook nie tussen atlete gedeel word nie.

Volgens ASA sal die byeenkomste suiwer elektroniese tye gebruik om te verhoed dat mense by die eindstreep saamdrom.

Meer oor:  Atletiek  |  Suid-Afrika  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.