Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Atletiek-polisie skors Luvo Manyonga

Die stoutseun van Suid-Afrikaanse atletiek is wéér in die moeilikheid.

Luvo Manyonga in 2011 tydens die verspring-eindronde van die Wêreldkampioenskap in Suid-Korea. Foto: Getty Images

Die verspringer Luvo Manyonga, ’n silwermedaljewenner op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016, is voorlopig geskors omdat hy die opkikkermaatreëls van atletiek se integriteitseenheid (AIU) drie keer in 12 maande oortree het.

Die 30-jarige Suid-Afrikaner, wat voorheen ’n stryd teen dwelmgebruik gevoer het, kan vir twee jaar geskors word weens sy versuim om sy doen en late aan te meld.

Manyonga, die Statebondkampioen en voormalige wêreldkampioen, is een van die gunstelinge om goud te wen by die uitgestelde Spele in Tokio wat vanjaar op 23 Julie begin.

“Atlete moet akkurate en bygewerkte besonderhede oor hul doen en late verskaf om te verseker dat hulle aan maatreëls teen die gebruik van verbode middels voldoen,” sê die AIU.

Dit is ’n oortreding wanneer atlete versuim om teen ’n bepaalde spertyd aan te meld waar hulle hulself bevind, versoeke verontagsaam om akkurate of volledige besonderhede aan beamptes te verskaf, of nie beskikbaar is vir opkikkertoetse binne ’n ooreengekomde tydperk van 60 minute nie.

Volgens Wêreldatletiek se reëls teen die gebruik van verbode middels tel enige kombinasie van die bogenoemde voorskrifte binne 12 maande as ’n oortreding.

Die AIU het Manyonga op 23 Desember aangekla. Indien hy die beslissing aanvaar, kan die AIU hom met die maksimum skorsing van twee jaar straf.

As Manyonga besluit om te appelleer, sal die saak deur ’n onafhanklike tribunaal aangehoor word wat sy lot sal bepaal.

Dit is nie die eerste keer dat Manyonga in die nuus is vir iets anders as sy verspringvermoë nie.

Luvo Manyonga by die Statebondspele in 2018. Foto: Getty Images

Nadat hy in 2017 in Londen die wêreldkampioen geword het, het sy pad met dié van sy breier by Tuks, Neil Cornelius, geskei en hy het Port Elizabeth toe verhuis. Van daar af het sy vertonings begin verswak.

Hy is in Mei 2020 beboet omdat hy in die openbaar gedrink het en Suid-Afrika se streng inperkingsreëls oortree het.

Hy is in 2012 vir 18 maande geskors nadat hy positief getoets is vir die gebruik van tik.

Manyonga is daarna geloof vir hoe hy sy dwelmverslawing oorkom het.

Die laaste paar jaar het hy egter weer agteruitgegaan. Sy suster, Vuyiseka Manyonga, het aan die begin van Desember 2020 in ’n onderhoud met TimesLive ’n pleidooi aan haar broer gelewer om terug te keer na ’n rehabilitasiesentrum.

“Ek dink hy gebruik weer dwelms,” het Vuyiseka aan TimesLive gesê.

“Sy aksies dui daarop dat hy nog steeds op dwelms is. Hy het verlede Saterdag met sy meisie se kar weggery. Ons het nie ’n televisie in my pa se kamer gehad nie, Luvo het die televisie verkoop. Hy het ook my seun se selfoon verkoop.

“Ek wens Luvo kan terugkeer rehab toe en sy lewe regmaak voordat dit te laat is.”

Luvo mors sy lewe op.

Hul ma, Joyce, is in Julie verlede jaar oorlede en Vuyiseka sê haar broer het hul ma teleurgestel.

“Luvo mors sy lewe op. Hy stel my teleur en hy het ook my ma teleurgestel.

“Luvo het my ma verskriklik gespanne gemaak. My ma was ontsettend lief vir Luvo.

“Sy wou hê Luvo moet sukses in die lewe behaal.”

Luvo het egter ’n week ná sy suster se onderhoud met die webtuiste ook met TimesLive gepraat. Hulle woon saam in hul ouerhuis in Paarl.

Hy glo sy suster is betaal om te sê hy is terug op dwelms.

Manyonga het ontken dat hy weer op dwelms is, maar het wel toegegee dat hy nie weet hoe om sy loopbaan voort te sit nie.

“Nee, ek oefen nie op die oomblik nie en ek weet nie hoe die pad vorentoe lyk nie, want ek doen alles op my eie,” het hy gesê.

“My klere is oral in die wêreld verstrooid. Ek verskuif van blyplek, ek bly nou in Paarl en my klere is in Port Elizabeth.

“Ek weet nie hoe om vorentoe te gaan nie, want my agentskap het nie vir my die volledige inligting gegee nie.” – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Atletiek  |  Luvo Manyonga  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.