Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Atletiekbase pleit by SAUK oor Comrades

Atletiek Suid-Afrika se grootkoppe het Donderdag met die SAUK vergader in ’n poging om die openbare uitsaaier te oorreed om wél die Comrades-ultramarathon te beeldsend.

Die SAUK het verlede naweek die 50ste weergawe van die Twee Oseane-ultramarathon die koue skouer gegee en nie uitgesaai nie, ’n besluit wat tot groot ongelukkigheid in die atletiekgemeenskap gelei het.

Die Comrades word as een van die wêreld se mees prestigeryke ultramarathons beskou. Sou dit ook nie uitgesaai word nie, kan dit tot nog ’n groter oproer lei.

Dis nog onseker of die dramatiese tonele wat hul jaarliks by die Comrades afspeel, vanjaar regstreeks op die SAUK uitgesaai gaan word. Foto: Gallo Images

Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika, het Donderdag aan Netwerk24 gesê dat ’n verklaring Vrydag uitgestuur sal word om die stand van sake te bevestig.

“Die probleem is dat hierdie nie ’n kwessie is waarna in isolasie gekyk kan word nie,” het Skhosana gesê.

“Atletiek was deur al die jare baie prominent op die SAUK se kanale, maar onlangs is dit eerder ander sportsoorte wat meer aandag kry.”

Hiermee word byvoorbeeld verwys na die Mzansi-superliga, ’n T20-krieketreeks wat verlede jaar in November en Desember eksklusief deur die SAUK uitgesaai is. Al 32 wedstryde is vertoon.

Volgens Skhosana het die SAUK in ’n brief aan hulle gesê dat finansiële probleme daartoe gelei het dat die Twee Oseane-marathon nie gebeeldsend kon word nie.

“Die Comrades was op hul aanvanklike skedules, maar nou is daar onsekerheid, want skielik word daar gesê hulle kan nie alles uitsaai nie,” het Skhosana bygevoeg.

Die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap word juis die week nie op televisie vertoon nie, met ASA wat gevolglik besluit het om die meeste van die nommers op hul Facebook-blad uit te saai en hoogtepunte van die gewildste nommers ook apart op ander mediaplatforms te deel.

Dis ook ’n probleem vir Skhosana.

“Hier sit ons met Olimpiese kampioene soos Caster Semenya en Wayde van Niekerk wat gaan deelneem, maar tog word dit nie op televisie uitgesaai nie.”

Van Niekerk was ingeskryf om aan die 400 m deel te neem, maar het hom onttrek omdat hy dit nie wou waag om sy knie in die koue toestande weer te beseer nie.

Skhosana meen die SAUK lys die een verskoning ná die ander oor waarom sportsoorte soos atletiek nie gewys kan word nie en dat dit ’n probleem is waarvoor daar ’n oplossing gevind moet word.

Die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap gaan Vrydag en Saterdag voort by die Herman Immelman-stadion in Germiston.

Meer oor:  Comrades  |  Asa  |  Aleck Skhosana  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.