Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Manyonga spring silwer los in Rabat

Suid-Afrika het Sondagaand sukses gehad in die verspringput by die Diamantliga-byeenkoms in Rabat, maar die Kubaan Juan Miguel Echevarría was wéér Luvo Manyonga se tier.

Luvo Manyonga. Foto: Getty Images

Die wêreldkampioen moes sy aanslag kortknip toe hy van die baan af gedra is met ’n besering. Die Kubaanse sensasie het die geleentheid gebruik om sy plek in die eindronde vas te maak.

Echevarría, wat in 2018 die voorste atleet in die verspringput in die wêreld was, het aanvanklik heeltemal uit sy diepte gelyk voordat hy met sy voorlaaste poging die Suid-Afrikaner se doppie geklink het met ’n afstand van 8,34 m.

Manyonga het met sy eerste poging die voortou geneem toe hy 8,21 m gespring het, maar ’n besering het beteken dat hy net twee van sy ses pogings kon benut.

Echevarría het met ’n afstand van 7,74 sy rekening geopen, met twee onwettige pogings wat gevolg het, voordat hy 7,91 gespring het.

Hy het toe ’n haas uit die hoed geruk met sy vyfde poging om die eerste plek voor Manyonga se neus op te raap.

Nietemin het Suid-Afrika dubbele glorie beleef met Manyonga se silwermedalje en brons vir Ruswahl Samaai (8,16 m).

Op die tartan het Clarence Munyai gesukkel om die mas op te kom en ’n substandaard tyd van 20.63 sekondes in die 200 m opgestel.

Dit was net goed genoeg vir die vyfde plek met ’n ligte wind van voor (-0.5 m/s) wat die atlete moes trotseer.

Die Kanadees, André de Grasse, in teenstelling met Munyai, het met die louere weggestap in 20.19 sek. terwyl die wêreldkampioen, Ramil Guliyev van Turkye silwer gevat het in 20.28 sek.

Surgey Shubenkov van Rusland het die eerste plek opgeraap in die 110 m-hekkies, waar hy op dramatiese wyse oor die wenstreep getuimel het in 13.12 sek. nadat hy sy balans verloor het.

Andrew Pozzi van Brittanje was tweede in 13.30, terwyl Antonio Alkana nie sy beste wedloop gehad het nie en sesde was in 13.51.

Ondanks sy agtste plek in die diskusgooi, sal Victor Hogan tevrede met sy pogings wees.

Dié Suid-Afrikaner het aangetree as by verre die swakste van die 10 deelnemers, met al sy teenstanders wat vanjaar al verder gegooi het.

Hogan het egter met sy beste poging van 62,98 m vir Ola Stunes van Noorweë (61,43 m) en Christoph Harting van Duitsland (61,02 m) geklop.

Dit was wel steeds ver agter Swede se Daniel Stahl wat gewen het met ’n nuwe byeenkomsrekord van 69,94 m.

Die verdedigende wêreldkampioen, Andrius Gudzius van Litaue, kon net ’n sesde plek behaal met 64,37 m.

Salwa Eid Naser, wat in 2017 silwer verower het by die IAAF se Wêreldkampioenskappe in Londen, het in die 400 m geseëvier in 50.13 sek. - ’n beste tyd vir die seisoen - en daarmee ook die derde vinnigste tyd van die jaar.

Dit was egter Aminatou Seyni van Niger wat die breedste geglimlag het ná haar nasionale rekord en tweede plek in 50.24 sek.

Nadat Botswana se Nijel Amos in Rome met 0.02 sek. teen die VSA se Donavan Brazier vasgeval het in die 800 m, moes hy dié slag weer swoeg, maar het uiteindelik genoeg gedoen om te wen in 1 minuut, 45.57 sek. Dit was egter aansienlik stadiger as die 1:43.65 wat hy in Rome gehol het.

Brazier was nie in Rabat in aksie nie, met Emmanuel Korir van Kenia wat naasbeste was in 1:45.60.

Meer oor:  Rabat  |  Atletiek  |  Iaaf  |  Diamantliga  |  Luvo Manyonga  |  Asa  |  Ruswahl Samaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.