
Die verspringatleet Peter Makgato Sondag in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein voordat hy ontslaan is. Foto: Marita Herselman
Die Kovsie-verspringer Peter Makgato (24) se hoop om vir die 2021 Olimpiese Spele te kwalifiseer beskaam nie, nadat hy tydens oefening die Achilles-tendon in sy linkervoet geskeur het.
Makgato, wat volgens sy jare lange afrigter op die beste peil van sy lewe was, het Saterdag ’n prosedure in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein onder leiding van die ortopedis dr. Werner Rall ontvang om die hakskeensening te herstel.
Die besering verlede Maandag was ’n terugslag, omdat hy graag vir die Olimpiese Spele in 2021 wil kwalifiseer. Weens vanjaar se Covid-19-pandemie was daar nie veel kans om aan kompetisies deel te neem nie.
Dié prosedure het goed verloop en dié LLB-student in sy derde jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is hoopvol. Hy het relatief min pyn en is Sondag ontslaan.
Hy gaan vir ses weke ’n voetstut dra, waarna die rehabilitasieproses drie maande sal neem, sê hy.

Die Kovsie-verspringer Peter Makgato is vol hoop dat hy nog vir volgende jaar se Olimpiese Spele ná sy besering kan kwalifiseer.Foto: Marita Herselman
“Asseblief, moenie dat dit dié besering wees nie,” het hy tydens die tegniese oefening gedink toe hy voel iets skort.
Emmarie Prinsloo, hoof van die Kovsie Jumping Academy, rig hom af. Sy sê dit sal naïef wees om te sê die pad na 2021 se Olimpiese Spele gaan maklik wees. Albei van hulle gaan alles in hul vermoë doen om dit te verwesenlik.
“Sy droom is om na die Olimpiese Spele te gaan, wanneer, sal ons nog moet sien, maar hy gaan nog,” sê Prinsloo.
Tydens die besering het sy eers gedink dis nie so erg nie, “want hy het letterlik net van ’n trappie afgeklim”.
Makgato se beste afstand is 7.96 m.
“Hy het in baie oefeninge al veel verder as die Olimpiese vereiste van 8.22 m gespring. Dis waarom ons opgewonde was, want alles het gedui op ’n groot seisoen. Maar ongelukkig was dit nie-amptelik.”
Sy gemiddelde afstand tydens oefeninge was 8.3 m.
Dié oudleerling van die Jeppe Hoër Seunskool in Johannesburg het in sy matriekjaar aan die sportsoort begin deelneem. Daarna het hy ’n sportbeurs verwerf om aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) te studeer.
Prinsloo was Makgato se afrigter by UJ en toe sy by die UV kom werk, het hy ook daarheen gegaan.
“Sy was die eerste mens om vir my te sê ek het die vermoë om die beste verspringatleet ter wêreld te wees, ” vertel hy.