Die Jamaikaanse naelloper en voormalige wêreldkampioen Yohan Blake sê hy sal eerder vanjaar se Olimpiese Spele misloop as wat hy met die Covid-19-entstof ingeënt word.

Die Jamaikaanse naelloper Yohan Blake sê hy weier om teen Covid-19 ingeënt te word. Foto: Getty Images
“My kop is steeds sterk, ek wil nie ingeënt word nie,” het Blake, wat twee Olimpiese goue medaljes agter sy naam het, aan die Jamaikaanse koerant The Gleaner gesê.
“Ek sal eerder die Olimpiese Spele misloop as wat ek ingeënt word. Ek gaan dit nie vat nie.
“Ek wil nie nou te veel daaroor uitbrei nie, maar ek het my redes. Volg jou kop en nie die skare nie,” het hy gesê.
Dit kom nadat die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) verlede maand aangekondig het dat inenting nie verpligtend sal wees vir atlete wat na Olimpiese skouspel reis nie, maar dat hulle wel aanmoedig word om ingeënt te word voordat hulle op die vliegtuig na Japan klim sodat hulle kan “help om die Spele ’n veilige omgewing te maak”.
Blake het gesê mense moenie toelaat dat hul keuse oor die inenting van hulle weggeneem word nie.
Die Jamaikaanse regering sal na verwagting volgende week sy eerste vrag entstowwe ontvang.
Blake se opmerkings was ná ’n reeks van agt byeenkomste wat Saterdag oor die Karibiese eiland heen gehou is en die terugkeer van groot sportgeleenthede in die gebied was nadat dit lank weens die pandemie opgeskort was.
Die Olimpiese Spele, wat weens die pandemie met ’n jaar uitgestel is, is veronderstel om op 23 Julie te begin, ondanks spekulasie dat dit gekanselleer gaan word.
Blake het in 2012 die 100 m in 9.69 sekondes geblits.
Dié tyd is steeds die gesamentlike derde vinnigste nog, met Usain Bolt en Tyson Gay wat dit ook vermag het.
Bolt se wêreldrekord van 9.58 in 2009 en 9.63 in 2012 is onderskeidelik die eerste en tweede vinnigste tye nog.
Blake kon egter ná afloop van 2012 nog nooit weer onder 9.90 hardloop nie met ’n beste van dié tyd in 2017. – Reuters, Sportredaksie