Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Bolt kritiseer gevorderde spykerskoene
Usain Bolt meen die vooruitgang in die tegnologie wat spykerskoene betref, kan atlete ’n onregverdige voordeel gee. Foto: Getty Images

Die Olimpiese legende Usain Bolt meen tegnologiese vooruitgang in die vervaardiging van spykerskoene, wat in die toekoms kan help om sy wêreldrekords te oortref, is belaglik en gee atlete ’n onregverdige voordeel bo diegene wat dit nié dra nie.

Nadat atlete in dié nuwe, veselbedekte, diksool-skoene die laaste ruk verskeie langafstandrekords laat spat het, het dié tegnologie nou oorbeweeg na spykerskoene in die naellope, waar dit na verwagting selfs oor ’n kort afstand genoeg van ’n verskil sal maak om tye te verbeter.

“Toe ek daarvan hoor, kon ek nie glo dit is waarheen hulle mik nie en dat ons werklik die spykerskoene gaan aanpas tot op ’n vlak waar dit atlete ’n voordeel gaan gee om selfs nóg vinniger te hardloop,” het Bolt gesê.

Dié wêreldrekordhouer oor 100 m en 200 m het in sy loopbaan in Puma se spykerskoene deelgeneem.

Dit is vreemd en onregverdig vir baie atlete, want ek weet skoenvervaardigers het dit al in die verlede probeer.
Usain Bolt

“Dit is vreemd en onregverdig vir baie atlete, want ek weet skoenvervaardigers het dit al in die verlede probeer. Die beheerliggaam (Wêreldatletiek) het toe gesê: ‘Nee, jy kan nie die spykerskoene verander nie.’ So om te weet dat hulle dit nou egter wil toelaat, is lagwekkend,” het die agtmalige Olimpiese kampioen bygevoeg.

Die Amerikaner Trayvon Bromell is die gunsteling om vanjaar Bolt se 100-kroon in Tokio oor te neem. Hy is met ’n tyd van 9.77 sekondes die vinnigste so ver vanjaar oor dié afstand.

Trayvon Bromell (Getty)
Trayvon Bromell Foto: Getty Images

Dié bronsmedaljewenner in 2015 se Wêreldkampioenskappe is egter nie oortuig daarvan dat die nuwe skoene veel van ’n invloed gaan hê nie.

“Ek dink nie daar is genoeg inligting om te bewys dat die skoene tot ’n groot verbetering in die tye gaan lei nie,” het Bromell, wat deur New Balance geborg word, gesê.

Terwyl ander maatskappye soortgelyke skoenmodelle het, lyk dit steeds of Nike sy mededingers tans vooruit met die tegnologie is.

“Ons is net slimmer met hoe ons die skoene ontwikkel en saamstel,” het Nike in ’n e-pos aan Reuters gesê.

Die maatskappy voeg by dat hy sy atlete die beste binne die bestaande reëls wil bied.

Wêreldatletiek sê dat sy regulasies “die integriteit van elite-kompetisie wil beskerm en tot ná die Olimpiese Spele in Tokio beperkings op tegnologiese ontwikkelings in alle items plaas”.

Die liggaam sê ’n werkgroep is besig om riglyne op te stel waarbinne ’n balans tussen vooruitgang en ’n mededingende voordeel gevind word.

Die Jamaikaanse tweemalige Olimpiese kampioen Shelly-Ann Fraser-Pryce, wat in Nike se Air Zoom Maxfly-spykerskoene deelneem, het op 5 Junie die vinnigste vroue-100 in 33 jaar gehardloop toe sy in Kingston ’n persoonlike beste tyd van 10.63 opgestel het.

Net die wêreldrekordhouer, Florence Griffith-Joyner, was al vinniger met haar tyd van 10.49 in Indianapolis in 1988.

Fraser-Pryce het haar uitslag egter toegeskryf aan die tyd wat sy daaraan bestee om die vinnigste lewende vrou te wees.

Jy kan die spykerskoene vir enigiemand gee en hulle sal waarskynlik nie regkry wat ek al vermag het nie.
Shelly-Ann Fraser-Pryce

“Jy kan die spykerskoene vir enigiemand gee en hulle sal waarskynlik nie regkry wat ek al vermag het nie,” het Fraser-Pryce gesê.

“Miskien is dit ’n kombinasie van albei – goeie produkte en goeie atlete – wat vir ’n baie goeie eindproduk sorg. So, ek kan nie net sê dit is aan die spykerskoene te danke nie.”

Amerika se Sha’Carri Richardson, wat die Spele gaan misloop nadat sy vir ’n maand geskors is oor daggagebruik, het opgeskuif tot in die sesde plek op die lys van vinnigste vroue-atlete tot nog toe met haar 10.72 in April, toe sy óók in dié skoene gehardloop het.

Stephen Francis, ’n veteraan in Jamaika se naelloop-afrigterskringe, het self toegegee dat anekdotiese bewyse daarop dui dat vinniger tye in Nike se nuwe spykerskoene aangeteken word. – Reuters

Meer oor:  Shelly-Ann Fraser-Pryce  |  Usain Bolt  |  Vsa  |  Rekords  |  Atletiek  |  Rekordhouer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.