Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Bongmusa wys hy is 1 van die bestes

Bongmusa Mthembu, die Comrades-kampioen, het Saterdagoggend in die 50ste Twee Oseane-wedloop oor 56 km in die Kaap gewys waarom hy beskou word as een van die beste ultra-atlete wat die land nog opgelewer het.

Bongmusa Mthembu wen Saterdag sy eerste titel in die Twee Oseane-wedloop in Kaapstad. Die gewilde wedloop oor 56 km is vir die 50ste keer aangebied. Foto: Gallo Images

Die KwaZulu-Natalse atleet het met ’n sterk eindpoging in die laaste 15 km sy eerste Twee Oseane-titel gewen. Sy wentyd was 3:08:39 – dit is vyf minute stadiger as wyle Thompson Magawana se 31 jaar oue rekord van 3:03:44.

In die afdeling vir vroue het Gerda Steyn (Nedbank) in styl haar titel verdedig met ’n pragtyd van 3:31:28.

Dit is net meer as ’n minuut stadiger as Frith van der Merwe se rekord (3:30:36), wat al 30 jaar die rekord is.

Van der Merwe het minute ná Steyn oor die eindstreep gehardloop het, vir haar ’n boodskap van gelukwensing gestuur.

Mthembu (Arthur Ford) spog ook met drie Comrades-titels en het in 2018 die eerste Suid-Afrikaner sedert Bruce Fordyce in die 1980’s geword wat twee opeenvolgende Comrades-titels kon wen.

Saterdag se wedloop-roete is skaars 36 uur voor die wedloop verander weens die gevaar van onluste in die Houtbaai-omgewing.

Die roete is oor Ou Kaapse-weg herlei en dit het waarskynlik ’n groot rol gespeel in die mislukte aanslag van ’n groep Keniaanse atlete op Magawana se rekord.

Die moordende opdraande teen Ou Kaapse-weg uit – en moontlike die nat toestande oor die eerste helfte van die wedloop – het hulle laat swaar kry.

Nadat die Keniaans-gebore Fransman Abraham Kriptochi oor die eerste meer as 40 km sake dikteer het, het die Ethiopiër Sintayehu Legese Yinusu oorgeneem en sterk gelyk vir die volgende 8 km.

’n Verheugde Gerda Steyn nadat sy haar titel in die Twee Oseane-wedloop suksesvol verdedig het. Foto: Gallo Images

Maar toe het Mthebu en David Gatebe, die 2013-kampioen en die Comrades-kampioen van 2016, se ervaring en ysere wil begin deurkom.

Sowat 6 km voor die einde het eers Mthembu, wat nou met vier goue medaljes in die Twee Oseane spog, en toe Gatebe by hom verby geblits.

“Dit was my plan om so te hardloop. Die weer oor die eerste helfte was aaklig,” sê Mthembu, wat op 9 Junie sy Comrades-titel verdedig.

Gatebe was uiteindelik tweede in 3:10:28.

Die verdedigende kampioen, die Keniaan Justin Kemboi Chesire, was derde in 3:11:22, met Yinusu (3:12:33) vierde.

Steyn, die naaswenner in 2018 se Comrades, was in die sewende hemel. “Ek het baie lekker gehardloop. Ek, Irvette (van Zyl) en Mamorallo (Tjoka) het saam gehardloop.

“Ná so 40 km het ek hulle getoets deur te versnel. Hulle het nie gereageer nie.

“Ek is gelukkig, want ek het baie sterk geëindig.”

Tjoka was tweede in 3:38:22 en Van Zyl, in haar ultra-debuut, derde in 3:41:31.

Van Zyl was in trane.

“Dit was ’n aaklige wedloop vir my. Ek moes vier keer bosse toe gaan,” het Van Zyl gesê, terwyl haar man, die Olimpiese hekkiesatleet LJ van Zyl, probeer troos het.

Meer oor:  Atletiek  |  Marathon  |  Twee Oseane  |  Gerda Steyn  |  Bongmusa Mthembu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.