Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Borge het g’n pyne oor beseerde Wayde

Wayde van Niekerk is dalk vir die volgende jaar buite aksie, maar dié 400 m-wêreldkampioen het steeds die volle ondersteuning van sy wêreldbekende borge.

Van Niekerk is onlangs in Colorado, Amerika, geopereer vir ’n kniebesering wat hy in ’n raakrugby-vertoonwedstryd in aanloop tot die Springbok-toets teen die All Blacks in Kaapstad opgedoen het.

Wayde van Niekerk.Foto: getty

Ofskoon dit beskou is as ’n besering wat sy loopbaan kan bedreig, het geen enkele borg tot dusver kop uitgetrek nie.

Nadat Van Niekerk verlede jaar op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro goud verower het met sy vertoning wat Michael Johnson se rekord van 1999 verpletter het, het wêreldbekende handelsname soos Adidas, Visa, Richard Mille (horlosies) en Audi (R8-sportmotor) op hom toegesak. Veral sy borgskap met die sportklerevervaardiger blyk miljoene werd te wees.

Hoewel sommige borge bekommerd sou reageer op nuus dat ’n belegging soos Van Niekerk met ’n ernstige besering sukkel wat potensieel sy loopbaan kan kelder, sê Ans Botha, sy afrigter, geeneen van sy borge is sku vir die beseerde Van Niekerk nie.

Ans BothaFoto: André damons

“Dit is verblydend dat nog nie een van Wayde se borge navraag gedoen het oor sy besering nie. Dit wys dat hulle vertroue het in sy herstel en rehabilitasie en die prosesse wat gevolg moet word om hom weer op sy beste te kry,” het Botha gesê.

Behalwe vir die lang herstelpad wat vir Van Niekerk voorlê, sal dit nog etlike maande se bloedsweet op die baan kos voordat hy weer op dieselfde peil sal kan wees as wat hy voor sy besering was.

“Agt maande. Dit is baie moeilik om presies te sê hoe lank, maar dis hoe lank ek dink dit sal neem voordat Wayde weer op dieselfde vlak is as waar hy was.

“Ons sal soos in 2012 weer van heel voor af moet begin. En ons sal fyn na sy lyf moet luister om hom nie te vinnig te veel te laat doen nie.”

Van Niekerk behoort binne die volgende week in Suid-Afrika te kom draai voordat hy na Katar vertrek om onder dr. Louis Holtzhausen se kennersoog met sy rehabilitasie te begin.

Intussen sal Botha besig bly met die jong Amerikaanse blits Curtis Mitchell wat by haar vir raad kom aanklop het.

Met die eer wat haar te beurt geval het om deur die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) as Internasionale Afrigter van die Jaar aangewys te word, sal sy ook veel meer in die kollig wees.

Sy word ook vanaand deur die regering met ’n leeftydprestasie-prys vereer.

Meer oor:  Ans Botha  |  Wayde Van Niekerk  |  Ondersteuning  |  Afrigter  |  Borg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.