Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Bothma, Mothibi kerf plek in annale oop

Die name Edward Mothibi en Annie Bothma sal in die annale van padwedlope opgeteken staan as die wenners van die eerste virtuele Kaapstad-marathon.

Annie Bothma hardloop Sondag verby die Kaapstad-stadion op pad na die eindpunt in die Groenpunt-atletiekstadion. Sy was die vrouewenner in die Moederstad en die algehele wenner van die elite-vroueatlete. Altesaam 15 000 atlete het danksy ’n app regoor Suid-Afrika aangetree vir die onderskeie wedlope van die Kaapstad-marathon. Foto: Jaco Marais

Min marathons wêreldwyd het vanjaar se Covid-19-pandemie vrygespring en eerder as om die wedlope in die Moederstad af te stel, het die organiseerders besluit op ’n virtuele byeenkoms.

Hulle het daarna ’n groep elite-atlete genooi om mekaar uit te daag – in drie verskillende stede.

Sondag se Kaapstad-marathon was dus uniek in vele opsigte en was eintlik drie wedlope in een.

Die dag het aan Suid-Afrika se ultra-atlete behoort met Edward Mothibi, verlede jaar se Comrades-kampioen, wat in Potchefstroom in 2 uur, 16 minute en 47 sekondes gewen het én as die algehele wenner aangewys is.

Bongmusa Mthembu, 2019 se Twee Oseane-kampioen en die Comrades-wenner in 2018, het ’n skitterwedloop in Kaapstad gehardloop. Dié atleet van Arthur Ford het sy uitdagers in 2:17:32 uitgestof en hy het sy persoonlike beste tyd verbeter.

Bongmusa Mthembu (regs) het later feitlik alleen voor gehardloop om die marathon in Kaapstad te wen. Foto: Jaco Marais

Phillimon Mathiba (Nedbank) was bobaas in Pretoria in 2:18:29.

Danksy ’n formule wat die sportwetenskaplike prof. Ross Tucker opgestel het, was die speelveld gelyk en aanpassings is aan atlete se tye gemaak om voorsiening te maak vir die verskil tussen wedlope hoog bo seespieël en dié op kusvlak.

Mothibi se aangepaste tyd was 2:13:11.

In Kaapstad het Annie Bothma (ATC Multisport) vroeg in die vrouewedloop die voortou geneem en later feitlik alleen gehardloop.

Haar tyd van 2:33:35 is meer as agt minute vinniger as in verlede jaar se Kaapstad-marathon.

Sy het vroeg vanjaar ’n oefenkamp in Kenia bygewoon.

Edward Mothibi wen Sondag in Potchefstroom. Foto: Verskaf

Nog ’n Comrades-kampioen, Ann Ashworth (Massmart), was die vrouewenner in Potchefstroom in 2:46:13, terwyl Charné Bosman (Murray & Roberts) in 2:56:18 in Pretoria gewen het.

Die bewolkte weerstoestande het die atlete in Kaapstad bevoordeel, want dit was teen die tweede helfte van die wedloop reeds erg warm in die Jakarandastad en Potchefstroom.

Ashworth het algeheel tweede geëindig, met ’n aangepaste tyd van 2:41:51. Nontokozo Mkhize (Arthur Ford), wat in Kaapstad tweede geëindig het ná Bothma in 2:46:42, was algeheel derde.

Reneé Jordaan, die wedloopdirekteur, sê die elite-atlete was opgewonde en het die vreemde wedloopformaat omarm.

Deelnemers het in rondtes gehardloop.

Elana Meyer ontvang Saterdag in Groenpunt die vredesfakkel, wat simbolies is van die Kaapstad-marathon. Sy het die fakkeldraer-toekenning van die Sri Chinmoy Oneness-vredeswedloopspan ontvang vir haar bydrae tot die bevordering van vrede. Vorige ontvangers van dié spesiale toekenning is emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en die tennislegende Billie Jean King. Die vredesfakkel het sedert 1987 155 lande besoek en meer as 632 000 km “afgelê”. Foto: Verskaf

“Suid-Afrika se voorste atlete was honger vir ’n wedloop en hulle was entoesiasties oor die unieke formaat.”

• Gerda Steyn het in Dubai die 10 km-wedloop in 38:02 afgelê net twee weke ná haar deelname aan die Londen-marathon.

Mo Farrah was in Engeland ook “in Kaapstad” waar hy die 10 km in 31:26 voltooi het.

• Die elite-wedlope is op SABC 2 uitgesaai – die eerste keer dat ’n virtuele marathon regstreeks op televisie uitgesaai is.

• Inskrywings vir volgende jaar se wedloop op 17 Oktober open Maandag om 06:00.

Meer oor:  Atletiek  |  Annie Bothma  |  Virtuele  |  Edward Mothibi  |  Padwedlope  |  Kaapstad-Marathon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.