Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Breiers ouer as 60 nié op Tuks-baan toegelaat
Clarence Munyai, die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 200 m, is een van talle van die land se voorste atlete wat gewoonlik by Tuks oefen. Foto: Gallo Images

Die Universiteit van Pretoria (Tuks) se atletiekbaan sal op die vroegste eers aan die einde van die maand vir oefening en boonop net vir ’n bepaalde groep atlete beskikbaar gestel word.

Die universiteit se L.C de Villiers-stadion, waar meeste van die land se voorste atlete afgerig word, mik in hierdie stadium na 25 Junie as die vroegste datum waarop sy hekke weer geopen gaan word.

Indien die stadion nie betyds gereed is nie, sal dit waarskynlik op die laatste in die eerste week van Julie geopen word, het ’n woordvoerder van TuksSport Maandag aan Netwerk24 gesê.

Streng maatreëls sal egter aan die orde van die dag wees en net atlete wat in die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en die Olimpiese Komitee (Saskok) se voorlopige oefengroep vir die Olimpiese Spele in Tokio in 2021 is, sal ingelaat word.

’n Maksimum van 20 atlete sal op ’n slag op die baan toegelaat word en hul afrigters sal deurentyd hul gesigmaskers moet dra.

Almal wat op die baan gaan, sal eers onderwerp word aan ’n siftingsproses deur hul temperatuur te meet.

As ’n atleet se temperatuur te hoog is, sal hy/sy eers afgesonder word waar sy/haar temperatuur later weer geneem sal word om te bepaal of hulle wel toegang mag kry.

Indien ’n atleet se temperatuur die tweede keer steeds te hoog is, sal hy/sy aangeraai word om vir die virustoets te gaan.

Sosialisering tussen mense by die baan sal ook nie toelaatbaar wees nie.

’n Maatreël wat egter nie byval vind by almal nie, is dat afrigters van ouer as 60 nie toegelaat sal word nie.

Dít sal atlete soos Clarence Munyai, Rikenette Steenkamp en Gift Leotlela, wat onderskeidelik die Suid-Afrikaanse rekordhouers in die 200 m, 100 m-hekkies en die o.18-100 m is, affekteer. Hennie Kriel, wat een van die land se voorste afrigters in naellope is en in Augustus sy 64ste verjaardag vier, is hul afrigter.

Munyai en Steenkamp is twee atlete wat hulle daarvoor sal beywer om volgende jaar ’n plek op die vlug na Japan te kry.

Wêreldatletiek het vroeër die maand aangekondig dat sy venstertydperk om vir die Spele te kwalifiseer eers op 1 Desember hervat sal word.

Uitslae wat gedurende die nuwe internasionale vensterperiode vir byeenkomste van Augustus tot Oktober behaal word, sal nie vir Olimpiese kwalifisering in aanmerking kom nie.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Universiteit Van Pretoria  |  Atletiek  |  Koronavirus  |  Tuks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.