Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster en Luvo buit weer Diamant-titels

Nie net het Caster Semenya Donderdagaand haar segetog in die 800 m voortgesit nie, maar sy het ook haar titel as die Diamantliga-reeks se kampioen in dié nommer verdedig voor ’n uitverkoopte Letzigrund-stadion in Zürich.

Nommer drie in die sakkie! Caster Semenya het Saterdagaand in Zürich haar derde agtereenvolgende titel in die Diamantliga-reeks verower.Foto: AP Images

Semenya het die wenstreep oorgesteek in 1 minuut 55.27 sekondes om vir die derde agtereenvolgende jaar as dié reeks se kampioen gekroon te word. Dit is die tweede beste tyd van die jaar.

Sy het soos ’n koeël uit ’n geweer weggespring en teen die tyd wat sy by die 400 m-merk gekom het was sy reeds 10 meter voor haar naaste teenstander.

Die VSA se Ajee Wilson het die silwermedalje verower in 1:57.86, met Natoya Goule van Jamaika wat derde was in 1:58.49.

Francine Niyonsaba van Burundi sal nie tevrede wees met haar sesde plek nie, nadat sy deurlopend vanjaar die naasbeste atleet in die 800 m was. Haar tyd was 1:59.11.

Die laaste keer wat die 27-jarige nie op die boonste trap van die podium gestaan het in haar voorkeurnommer nie, was in September 2015.

“Dit was fantasties,” het Semenya na afloop van haar wedloop gesê. “Dit was ’n lang maand van wedlope vir my en ek kan dit aan my liggaam voel.”

Die wêreldkampioen in die verspring, Luvo Manyonga moes diep delf om die Afrika-kampioen en sy landgenoot, Ruswahl Samaai, te troef en sy titel te verdedig.

Die twee Suid-Afrikaners was in ’n klas van hul eie. Manyonga het die voortou geneem met sy eerste sprong met 8.32 m (+0.3 m/s windlesing), maar Samaai het met sy vierde poging dit geëwenaar. Omdat hy ’n naasbeste sprong van 8.30 gehad het (teenoor Manyonga se 8.25) het hy die voortou geneem.

Manyonga het egter sy sielkundige staal gewys deur met sy heel laaste sprong ’n afstand van 8.36 m te behaal – en sy Diamantliga-titel te behou.

Henry Frayne van Australië was derde met 8.16 m.

Dit was Donderdag presies 27 jaar sedert die Amerikaner Mike Powell in Tokio die maatband tot 8.95 m laat rek het om die wêreldrekord op te stel.

Murielle Ahouré van Ivoorkus het in die 100 m verras en gewen in 11.01. Die twee gunstelinge Marie-Josée Ta Lou (11.08) en die Brit Dina Asher-Smith (11.10) was onderskeidelik tweede en derde. Carina Horn was sewende in 11.54.

Sake het ook nie glad verloop vir Wenda Nel in die 400 m-hekkies nie. Sy was agtste in 57.23 met die Olimpiese kampioen Dalilah Muhammad wat gewen het in ’n blitsige 53.88.

Die Amerikaner Noah Lyles het weer eens bevestig dat hy een is om dop te hou met sy sege in die 200 in 19.67. Die wêreldkampioen Ramil Guliyev was tweede in 19.98 terwyl Suid-Afrika se Luxolo Adams sewende was in 20.51.

Cornel Fredericks was vyfde in die 400 m-hekkies in 49.96, met Kyron McMaster van die Britse Maagde-Eilande wat gewen het in 48.08.

Pieter Conradie het sewende in die 400 m klaargemaak in 47.37 sek terwyl die VSA se Fred Kerley gewen het in 44.80.

* Vrydagaand sal Akani Simbine die landsvlag laat wapper by die eindronde in Brussels, waar hy om 20:54 in die 100 m in die blokke sal sak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.