Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster kan 800 m-rekord in VSA kafdraf

’n Fees van atletiek wag op toeskouers by die Diamantliga-reeks se derde en vierde ronde, wat onderskeidelik in Eugene in die VSA en in Rome gehou word.

Die derde byeenkoms begin op 25 Mei in Amerika met ’n hoogtepunt wanneer die Olimpiese kampioen in die spiesgooi, Thomas Röhler, sy landgenoot en die 2017-wêreldkampioen, Johannes Vetter, die stryd aansê.

Johannes Vetter, die wêreldkampioen in die spiesgooi, sal in Eugene, VSA, die Olimpiese kampioen, Thomas Röhler, die stryd in die Diamantliga-reeks aansê. Foto: Getty Images

Dié Duitsers is vanjaar die twee voorste spiesgooiers in die wêreld. Vetter het in Maart met ’n reusagtige poging van 92.70 m losgetrek en Röhler het in Katar met ’n ewe skitterende afstand van 91.78 m in die eerste Diamantliga-byeenkoms geseëvier.

Op 26 Mei gaan dié byeenkoms in Oregan voort wanneer Caster Semenya in haar gunstelingnommer wegspring. Semenya het op die Statebondspele in Australië se Goudkus die 800 m in ’n tyd van 1 minuut 56.68 sekondes gewen, wat ook die vinnigste tyd in die wêreld vanjaar is. Sy hou die Suid-Afrikaanse rekord in 1:55.16. Moenie verbaas wees as sy Jarmila Kratochvílová van Tsjeggië se wêreldrekord van 1:53.28, wat in 1983 opgestel is, in haar visier het nie.

Die Suid-Afrikaanse langasem Dominique Scott-Efurd sal ook in die 5 000 m in Eugene in aksie wees, waar die wêreldkampioen, Hellen Obiri, op haar wag. Obiri het reeds vanjaar ’n blitstyd van 15:13.11 gehardloop. Scott-Efurd se persoonlike beste tyd is 15:20.10.

In die hoogspring sal alle oë op die wêreldkampioen, Mutaz Essa Barshim, wees. Hy is in 2017 as die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Mansatleet van die Jaar gekroon. Hy het in Katar op ’n hoogte van 2.40 m oor die dwarslat geseil.

Dan is daar ook nege wêreldkampioene, agt Olimpiese kampioene en tien Diamantliga-kampioene op 31 Mei in Rome te sien.

In die paalspring, verspring en diskusgooi vir mans sal die Olimpiese kampioene met die wêreldkampioene meeding.

Suid-Afrika se verspringheld Luvo Manyonga, wat onlangs in Sjanghai ’n wenafstand van 8.56 m behaal het, sal wil voortbou op sy vertoning in China om sy Diamantliga-titel te verdedig. Die Olimpiese kampioen, Jeff Henderson, sal egter poog om Manyonga se plan in die wiele te ry.

In die mans se 400 m-hekkieswedloop sal die Olimpiese kampioen, Kerron Clement van die VSA, die wêreldkampioen, Karsten Warholm van Noorweë, die Diamantliga-kampioen, Kyron McMaster van die Britse Maagde-eilande, die Europese kampioen, Yasmani Copello van Turkye, en die voorste atleet in 2018, Abderrahman Samba van Katar, sake uitspook in ’n wedloop wat vir vuurwerk sal sorg.

In die paalspring sal Sam Hendricks van die VSA en Thiago Braz van Brasilië in ’n taai stryd gewikkel wees, terwyl Andrius Gudzius van Litaue en Christoph Harting van Duitsland mekaar in die diskusgooi sal uitdaag.

In die 1 500 m -wedloop vir mans sal twee medaljewenners op die IAAF se Wêreldkampioenskappe in 2017 hul wedywering voorsit, wanneer Elijah Manangoi en Timothy Cheruiyot by die wegspringpunt aantree.

Die 200 m-wêreldkampioen, Ramil Guliyev van Turkye, sal in die 100 m wegspring, waar die VSA se Christian Coleman as die gunsteling beskou word. Coleman het in 2017 die beste tyd gehardloop (9.82 sekondes).

Die Amerikaanse Olimpiese kampioene in die hekkies, Brianna McNeal (110 m-hekkies) en Dalilah Muhammad (400 m-hekkies) sal albei hoop op goeie vertonings.

Die Statebondspelekampioen in die 400 m vir mans, Isaac Makwala van Botswana, sal in sy voorkeurnommer in die blokke sak, met die tweemalige silwermedaljewenner in die 200 m op die Wêreldkampioenskappe, Marie-Josée Ta Lou van die Ivoorkus, wat ook haar slag sal wil wys.

Meer oor:  Atletiek  |  Diamantliga  |  Caster ­Semen­Ya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.