Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster loof VN-verslag oor diskriminasie
Caster Semenya
Caster Semenya, die Olimpiese kampioen, het die VN geloof vir ’n verslag wat diskriminasie gebaseer op ras en geslag veroordeel.

Die Olimpiese kampioen Caster Semenya het die Verenigde Nasies se hoë kommissariaat vir menseregte geloof vir ’n verslag waarin hy sistematiese diskriminasie gebaseer op ras en geslag veroordeel.

Dié verslag, wat onder die leiding van Michelle Bachelet (die VN se hoë kommissaris vir menseregte) gedoen is, doen ’n beroep op sport se beheerliggame om alle kiesbaarheidskriteria, wat ’n negatiewe invloed op atlete se regte het, te hersien.

Semenya beskou dié verslag as waardevolle steun in haar stryd teen Wêreldatletiek se regulasies, waarvolgens vroue met natuurlike hoë testosteroonvlakke nie aan sommige items mag deelneem nie, tensy hulle mediese middels gebruik om hul testosteroon te onderdruk.

Semenya het gepoog om by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS), wat in Switserland gesetel is, dié regulasies as ongeldig verklaar te kry, maar het verloor.

Sy het daarna die saak op appèl na die Switserse federale hooggeregshof geneem. Sy en Atletiek Suid-Afrika wag steeds in spanning op die uitspraak, wat sal bepaal watter items sy vir deelname by volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio kan aanpak.

“Ek wil die VN se hoë kommissaris bedank dat sy uitgewys het aan watter diskriminasie en leed vroue en meisies in sport blootgestel word,” het Semenya luidens ’n verklaring gesê.

Mense wat die sport beheer, kyk nou al te lank in die ander rigting en ignoreer ons regte. Ek wil hulle daarvan verseker dat ek nie stilgemaak sal word nie en ook nie sal verdwyn nie.
Caster Semenya

“Mense wat die sport beheer, kyk nou al te lank in die ander rigting en ignoreer ons regte. Ek wil hulle daarvan verseker dat ek nie stilgemaak sal word nie en ook nie sal verdwyn nie.”

Die VN-verslag wys daarop dat die meeste vroue wat deur Wêreldatletiek se regulasies geraak word afkomstig van Afrika, suid van die Sahara, asook Suid-Asië is, terwyl die meeste navorsing rakende die deelname van vroue en meisies in sport op ontwikkelde lande fokus.

“Genoeg is genoeg. Dit is tyd vir wit mans om op te hou om vir vroue te sê hoe hulle moet lyk en om op te hou om met hul liggame te mors,” sê Semenya.

Die VN het ook sy kommer uitgespreek oor sportliggame en CAS se bereidwilligheid om remediërende optrede goed te keur vir atlete wie se menseregte geskend word.

Semenya bly egter steeds hoopvol dat die Switserse federale hooggeregshof se uitspraak haar goedgunstig sal wees.

“Daar was nog nooit ’n beter tyd as nou om op te kom teen sistematiese diskriminasie nie,” het Semenya bygevoeg.

Caster Semenya / Foto: Gallo Images

In Maart het Semenya, wat nie aan haar voorkeur-items (die 800 m en 1 500) mag deelneem nie, haar aandag vir eers na die 200 verskuif, ’n item wat nie deur Wêreldatletiek se regulasies geraak word nie.

Ofskoon sy nog ver weg was van die Olimpiese kwalifiserende vereiste van 22.80 vir dié item (haar persoonlike beste is 23.49), glo Semenya tog sy kan ’n suksesvolle oorgang na naellope maak.

Die uitstel van die Spele weens die Covid-19-pandemie het die deur vir haar verder oopgemaak om in die 200 te verbeter.

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se sperdatum om vir Tokio te kwalifiseer is nou eers op 29 Junie 2021.

Die Spele begin op 23 Julie 2021.

Meer oor:  Caster Semen­Ya  |  Suid-Afrika  |  Atletiek  |  Diskriminasie  |  Vn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.