Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster, Luvo maak jag op goud in Zürich

Die Olimpiese, wêreld- en Statebondkampioen Caster Semenya sal Donderdag die gunsteling wees om haar 800 m-titel te verdedig wanneer sy in Zürich vir die eerste eindbyeenkoms van die Diamantliga-reeks aantree.

Caster Semenya. Foto: Getty Images

Semenya sal haar by sewe ander Suid-Afrikaners aansluit wat uitnodigings ontvang het. Akani Simbine sal Suid-Afrika se enigste verteenwoordiger in die tweede eindbyeenkoms wees, wat Vrydag in Brussel, België, beslis sal word.

Die wedywering tussen Semenya en Francine Niyonsaba sal voortgesit word, met die atleet van Burundi wat steeds na haar eerste sege oor die Suid-Afrikaner streef. Niyonsaba het nou al ’n gewoonte daarvan gemaak om op die tweede trap van die podium te eindig in wedlope waarin Semenya ook in aksie is.

Semenya het vanjaar ’n persoonlike beste tyd en nasionale rekord van 1 minuut 54.25 sekondes in die 800 m behaal toe sy in Parys die eerste plek verower het. Dit is die vierde vinnigste tyd in die geskiedenis van dié item.

Semenya sal sonder twyfel die wêreldrekord in haar agterkop hê, veral met die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies se omstrede nuwe regulasies wat in November van krag word.

Tensy die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie nie ’n stokkie daarvoor steek nie, sal atlete soos Semenya, wat natuurlike hoë vlakke van testosteroon het, medisyne moet gebruik om dit te verlaag.

Dít kan ’n wesenlike invloed op Semenya se vertonings hê.

Hoewel sy daarvoor gekwalifiseer het, sal Semenya nie in die eindronde van die 1 500 in Brussel in aksie wees nie.

Luvo Manyonga sal ook in Zürich poog om sy titel in die verspring te verdedig. Die feit dat die Kubaan Juan Miguel Echevarría hom weens ’n besering moes onttrek, beteken dat Manyonga die oorweldigende gunsteling sal wees om te wen.

As Echevarría fiks was, kon sake interessant verloop het, want dié 20-jarige atleet het vroeër vanjaar in Stockholm met ’n monster-sprong van 8.83 m losgetrek. Dié afstand word egter nie amptelik erken nie, omdat die wind te sterk van agter gewaai het.

Luvo Manyonga sal Donderdag sy Diamantliga-titel in Zurich probeer verdedig. Foto: Getty Images

Manyonga se persoonlike beste is 8.65 m, wat hy verlede jaar in Potchefstroom behaal het.

Manyonga sal egter op sy tone moet wees met sy landgenoot Ruswahl Samaai, wat ook ’n goue medalje in sy visier sal hê. Samaai het juis onlangs vir Manyonga om die Afrika-titel in Nigerië geklop.

Die Olimpiese verspring-kampioen, Jeff Henderson en die Australiër Henry Frayne moet ook nie onderskat word nie.

Carina Horn, wat die SA rekord in die 100 m vir vroue hou, sal self hoop om die reeks op ’n hoë noot af te sluit. Sy het vanjaar ’n persoonlike beste tyd van 10.98 gehardloop, maar met Marie-Josée Ta Lou (10.85) en Murielle Ahouré (10.90) van Ivoorkus, Dina Asher-Smith van Brittanje (10.85) en Blessing Okagbare-Ighoteguonor van Nigerië (10.90) almal vanjaar vinniger as sy, sal Horn ’n merkwaardige vertoning moet lewer indien sy op die podium wil verskyn.

Cornel Fredericks, die voormalige Statebondkampioen in die 400-hekkies, sal ook aan sy voorkeurnommer deelneem.

Hy sal egter ’n buiteperd wees, met Karsten Warholm van Noorweë (47.64), Kyron McMaster van die Britse Maagde-eilande (47.54) en Yasmani Copello van Turkye (47.81) die gunstelinge.

Fredericks se beste tyd vanjaar is ’n beskeie 49.30.

Wenda Nel (vroue se 400 h), Luxolo Adams (mans se 200) en Pieter Conradie (400) sal ook hul slag wys teen die room van wêreldatletiek.

* Tye wat Suid-Afrikaners deelneem in Zürich: Pieter Conradie: 400 (20:04 SA tyd); Caster Semenya: 800 (20:13); Carina Horn: 100 (20:40); Luvo Manyonga, Ruswahl Samaai: verspring (20:45); Wenda Nel: 400-hekkies (21:02); Luxolo Adams: 200 (21:11);

Cornel Fredericks: 400-hekkies (21:44).

TV: Van 19:55 regstreeks op SS 8.

Meer oor:  Zurich  |  Atletiek  |  Diamantliga  |  Luvo Manyonga  |  Ruswahl Samaai  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.