Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster moeg om IAAF se ‘proefkonyn’ te wees

Die bekgeveg tussen Caster Semenya en die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) duur voort met die Suid-Afrikaner wat sê dat sy moeg is om die wêreldliggaam se proefkonyn te wees.

Die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS), wat in Switserland gesetel is, het verlede maand beslis dat die tweemalige Olimpiese kampioen in die 800 m en alle vroue-atlete met hiperandrogenisme (buitengewoon hoë natuurlike testosteroonvlakke) hormoonmedikasie moet gebruik ten spyte daarvan dat daar geen bewyse is dat dit haar in die 1 500 m of langer afstande bevoordeel nie.

Caster Semenya Foto: Reuters

Sedert die IAAF die eerste ronde in die hof gewen het, is net ’n opsomming van die uitspraak uitgereik.

Semenya, wat spesialiseer in die 800 m, maar ook op die wêreldverhoog in die 1 500 m uitblink, sê egter dat die volledige dokumente, wat Dinsdag openbaar gemaak is, daarop dui dat sy die afgelope jaar die IAAF se eksperiment was.

“Die IAAF het my as sy proefkonyn gebruik om op te eksperimenteer hoe die medikasie, wat hy vereis ek moet gebruik, my testosteroonvlakke sal affekteer,” het sy in ’n verklaring gesê.

“Selfs al het die hormoonmedikasie my deurlopend siek laat voel, probeer die IAAF nou steeds met ongekende gesondheidsnagevolge strenger perke toepas.”

Die Suid-Afrikaner het bygevoeg dat sy moeg is daarvoor dat die IAAF haar gebruik.

“Ek sal nie die IAAF toelaat om my liggaam ooit weer te gebruik nie.”

Die CAS het die IAAF se regulasies, wat op die 400 m, 400 m-hekkies, 800 m, 1 000 m, 1 500 m en myl van toepassing is, goedgekeur, maar erken dat dit blote “bespiegeling” is dat atlete met natuurlike hoë testosteroonvlakke in die 1 500 m en myl daardeur bevoordeel word.

Die hofdokumente onthul dat die IAAF argumenteer dat Semenya “biologies ’n man” is en dus haar testosteroonvlakke moet verlaag voordat sy op byeenkomste aan enige die vroue-atletieknommers mag deelneem.

Die IAAF meen glo sy is een van talle “biologiese mansatlete wat identiteite van die vroulike geslag het”.

"Ek sal nie die IAAF toelaat om my liggaam ooit weer te gebruik nie."
- Caster Semenya

Die CAS het in sy uitspraak gesê dat, hoewel hy meen dat daar wel genoegsame bewyse is om die nuwe regulasies tot en met die 800 m toe te pas, word die IAAF versoek om die 1 500 m te heroorweeg. Die IAAF weier egter.

Volgens die hofdokumente het die bewyse wat voor die CAS gebring is, gedui daarop dat die 1 500 m en myl suiwer ingesluit is op grond van “spekulasie dat atlete wat aan die 800 m deelneem ook suksesvol aan die 1 500 m en myl deelneem”.

“Geen voorleggings is egter ingedien wat spesifiek op dié twee nommers se insluiting binne die kategorie van beperkte nommers gemik is nie,” lui die dokumente.

Sedert die uitspraak in Mei gelewer is, het Semenya in die Switserse federale hooggeregshof appèl aangeteken teen die CAS se besluit en boonop ook ’n aansoek ingedien dat die IAAF se regulasies tydelik opgeskort word terwyl die saak afgehandel word.

Die Switserse federale hof het Semenya se aansoek goedgekeur, wat beteken dat sy soos gewoonlik kan deelneem sonder dat sy van enige medikasie gebruik hoef te maak.

"Om die argumente van al die partye en die gedetailleerde bevindings van die CAS-paneel in die openbare domein te hê sal dit makliker maak om hierdie komplekse saak te verstaan"
- IAAF

Die IAAF het egter probeer om die beslissing om te keer, maar die hof het beslis dat die IAAF se aansoek nie voldoende rede verskaf oor waarom dit gedoen moet word nie.

Sedert die regulasies opgeskort is, was sy die wenner in ’n 2 000 m-wedloop in Montreuil in Frankryk en sy sal na verwagting aan die einde van die maand op die Prefontaine Classic-byeenkoms in Kalifornië aan die 3 000 m deelneem.

Sy het die 800 m in die afgelope naweek se Diamantliga-byeenkoms in Rabat, Marokko misgeloop nadat sy ook moes baklei vir haar uitnodiging met die organiseerders wat haar aansoek aanvanklik geweier het.

Sy is drie dae voor die byeenkoms ingelig dat sy mag deelneem, maar volgens haar agent, Jukka Härkönen, was dit te min tyd om haar reëlings te tref.

Die IAAF het Dinsdag gesê hy is bly die CAS het die volle uitspraak beskikbaar gestel.

“Om die argumente van al die partye en die gedetailleerde bevindings van die CAS-paneel in die openbare domein te hê sal dit makliker maak om hierdie komplekse saak te verstaan en ook demonstreer waarom ’n balans gevind moet word tussen die reg van ’n individu om sy wettige geslag en/of geslagsidentiteit te kies, wat die IAAF ten volle ondersteun, en ook die noodsaaklikheid vir sport om ’n kategorie vir vrouesport, waar toelaatbaarheid op biologie en nie wettige geslag of geslagsidentiteit gekies word, te skep en te beskerm,” lui die IAAF se verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.