Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster sê sy’s nog nie klaar met atletiek nie

Caster Semenya is nog nie gereed om haar spykerskoene finaal weg te pak nie.

Caster Semenya praat in Augustus tydens ’n vrouekonferensie in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Só het die tweemalige Olimpiese kampioen in die 800 m die afgelope naweek op sosiale media gesê nadat die nuus gebreek het dat sy by ’n sokkerklub aangesluit het.

Semenya, wat reeds haar eerste oefensessie by die plaaslike sokkerspan JVW agter die rug het, sê dat sy steeds ’n atleet is.

“Om ’n sokkerspeler te wees beteken nie dat ek nie langer ’n baan- en veldatleet is nie. Ek wil dit net duidelik maak,” het sy op Twitter en Instagram gesê.

JVW, wat deur Banyana Banyana (die nasionale vrouesokkerspan) se kaptein, Janine van Wyk, besit word, het verlede week in ’n verklaring aangekondig dat Semenya sy nuutste lid is.

Sy sal egter nie vanjaar vir die span in die Sasol-vroueliga kan uitdraf nie nadat die oordragtydperk reeds gesluit het.

Sy sal wel steeds saam met die span oefen en kan moontlik in 2020 haar buiging in dié reeks maak.

Dit volg nadat Semenya se hoop om haar wêreldtitel te verdedig aan skerwe lê nadat ’n Switserse regter beslis het dat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se regulasies, waarvolgens vroue met natuurlik hoë testosteroonvlakke nie aan sommige items mag deelneem sonder die gebruik van medisyne nie, afdwingbaar is hangende haar appèl.

Semenya het in 2017 in Londen by die Wêreldkampioenskap die 800 gewen en ook verras toe sy brons in die 1 500 verower het.

Sy is boonop in 2018 as die Statebondkampioen in albei dié nommers gekroon.

Sy is tans met die IAAF in ’n stryd in die Switserse federale hooggeregshof gewikkel in ’n poging om die

Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se beslissing, dat atletiek se moederliggaam se regulasies wel geïmplementeer kan word, om te keer.

Semenya se atletiekbreier, Samuel Sepeng, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Atletiek  |  Iaaf  |  Asa  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.