Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster tans een van stadigstes in 3 000
Caster Semenya sal in Junie die eerste keer in ’n internasionale wedloop aan die 3 000 m deelneem. Foto: Getty Images

Caster Semenya sal op 30 Junie die ongewone status as “buiteperd” hê wanneer sy in die 3 000 m aantree in die Diamantliga se Prefontaine Classic-byeenkoms in Stanford, Kalifornië.

Dit sal die eerste keer wees wat Semenya buite Suid-Afrika se grense in die 3 000 m hardloop. Haar laaste wedloop in dié item was in 2017 in Potchefstroom.

Sy het toe haar persoonlike beste tyd van 9 minute, 36.29 sekondes opgestel. Dit is egter nie ’n tyd om oor opgewonde te raak nie en tel nie onder die voorste 1 200 tye in die geskiedenis nie. Trouens, sy sal minstens 51 sekondes vinniger moet hardloop om net onder dié groep te tel.

Almaz Ayana (Getty)

Die wêreldrekord staan al byna 26 jaar, met Wang Junxia van China wat in 1993 ’n verbysterende tyd van 8:06.11 in Beijing gehardloop het. Sy het ook die rekord in die 10 000 m vir 23 jaar gehou, voordat dit in 2016 deur Almaz Ayana van Ethiopië verbeter is.

Ayana sal een van Semenya se teenstanders in Kalifornië wees.

Die byeenkoms in die VSA sal ook die eerste keer wees wat sy deelneem sedert die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se nuwe testosteroon-regulasies in werking getree het.

Semenya, ’n tweemalige Olimpiese 800-kampioen, kan nie in die toekoms aan haar voorkeuritem of die 1 500 m deelneem nie nadat die IAAF in April sy saak by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) gewen het.

Gevolglik mag vroue met natuurlike hoë testosteroonvlakke nie meer aan die 400, 400-hekkies, 800, 1 500 en myl deelneem sonder dat hulle van medikasie gebruik maak om hul testosteroonvlakke te verlaag nie.

Semenya het egter baie duidelik aangedui dat sy nie van enige medikasie gebruik sal maak nie en as haar wedlope vanjaar enige aanduiding is, oorweeg sy al ’n geruime tyd om haar aandag na die langer afstande, wat nie deur die regulasies geraak word nie, te verskuif.

Dit beteken dat Semenya op lang termyn haar dalk op die 5 000, waarin sy die nuutgekroonde SA kampioen is, sal moet toespits. Dít is ’n Olimpiese item.

Die 3 000 is egter nie ’n Olimpiese item nie, maar die 3 000-hindernis wel. Dit beteken dat Semenya op lang termyn haar dalk op die 5 000, waarin sy die nuutgekroonde SA kampioen is, sal moet toespits. Dít is ’n Olimpiese item.

Semenya het reeds haar merk in die 1 500 gemaak op die internasionale verhoog en met ’n bronsmedalje by die IAAF se Wêreldkampioenskappe in 2017 weggestap, voordat sy in 2018 as die Statebondkampioen gekroon is in ’n Spele-rekord.

Sifan Hassan
Sifan Hassan (AP)

Die 3 000-wedloop in Kalifornië gaan ’n perd van ’n ander kleur wees, met Semenya wat een van die stadigste atlete in die wedloop sal wees.

Twaalf van die 16 deelnemers spog met beste tye vinniger as 9 minute.

Sifan Hassan van Nederland, wat in 2018 goud gewen het in dié item by die Kontinentale Wêreldbeker-byeenkoms, sal die grootste bedreiging inhou.

Sy was in 2018 die vinnigste oor dié afstand in die wêreld in 8:27.50.

Benewens die wêreldrekordhouer, Ayana, sal die Keniaan Caroline Kipkirui, ’n voormalige o.18-wêreldkampioen in die 3 000, ook in Stanford aantree. Sy het 2018 as die naasvinnigste atleet afgesluit in 8:29.05.

Dan het die Ethiopiërs Letesenbet Gidey en Senbere Teferi ook in 2018 onder die voorste 10 atlete getel en spog hulle met persoonlike beste tye van onderskeidelik 8:30.96 en 8:32.49.

Meer oor:  Caster Semenya  |  Stanford  |  Kalifornië  |  Diamantliga-Byeenkoms  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.