Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster wys eersdaags weer haar slag in 800 m

Caster Semenya sal op 30 Junie die eerste keer sedert die IAAF se nuwe regulasies tydelik opgeskort is, deelneem aan die 800 m.

Die Suid-Afrikaner sal op die Prefontaine Classic-atletiekbyeenkoms in Kalifornië die eerste keer sedert haar sege in dié nommer in Doha op 3 Mei in die 800 m aantree. Sy het haar aanvanklik vir dié byeenkoms vir die 3 000 m ingeskryf.

Caster Semenya in Mei op pad na haar wegholsege in die 800 m op die Diamantliga-byeenkoms in Doha.Foto: Getty Images

Nadat die Switserse federale hooggeregshof haar aansoek om die IAAF se regulasies tydelik op te skort goedgekeur het, het die tweemalige Olimpiese kampioen gevra of sy eerder aan die 800 m as die 3 000 m kan deelneem en die organiseerder van die byeenkoms in Stanford, Tom Jordan, het ingestem.

Jordan het in ’n verklaring op Twitter gesê dat hulle gelukkig is om dié versoek toe te staan.

Dit sal net haar tweede 800 m-wedloop in 2019 wees nadat sy in Mei haar saak verloor het teen die IAAF in die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS), wat in Switserland gesetel is.

Die IAAF se regulasies beteken dat vroue met natuurlike hoë testosteroonvlakke nie aan die 400 m, 400 m-hekkies, 800 m, 1 000 m, myl en 1 500m mag deelneem nie.

Semenya het egter op 3 Junie appèl aangeteken in die Switserse federale hooggeregshof en ook versoek dat die regulasies tydelik opgeskort word terwyl die saak aan die gang is.

Haar aansoek was suksesvol.

Die hof het die IAAF tot 25 Junie gegee om Semenya se appèl teen te staan.

Semenya het in Doha die 800 m in 1:54.98 gewen. Dit is ’n verbetering op haar eie byeenkomsrekord wat sy in 2018 opgestel het. Dit is ook die voorste tyd sover op die wêreldranglys vir 2019.

Sy het Dinsdag teen die IAAF uitgevaar en hulle daarvan beskuldig dat hulle haar as hul proefkonyn hanteer.

“Die IAAF het my as sy proefkonyn gebruik om op te eksperimenteer hoe die medikasie, wat hy vereis ek moet

gebruik, my testosteroonvlakke sal affekteer,” het sy in ’n verklaring gesê.

“Selfs al het die hormoonmedikasie my deurlopend siek laat voel, probeer die IAAF nou steeds om met die ongekende gesondheidsnagevolge strenger perke toe te pas.”

Die Suid-Afrikaner het bygevoeg dat sy moeg is daarvoor dat die IAAF haar gebruik.

“Ek sal nie die IAAF toelaat om my liggaam ooit weer te misbruik nie.”

Die volledige CAS-uitspraak is ook Dinsdag bekend gemaak (nadat vroeër net ’n opsomming uitgereik is), met die hofdokumente wat onthul dat die IAAF geargumenteer het dat Semenya “biologies ’n man” is en dus haar testosteroonvlakke moet verlaag voordat sy aan haar voorkeur-nommers mag deelneem.

Die IAAF meen glo dat sy een van talle “biologiese mansatlete is wat kenmerke van die vroulike geslag het”.

Sedert die IAAF se regulasies opgeskort is, het sy nog net aan ’n ongewone 2 000 m-wedloop in Montreuil in Frankryk deelgeneem, waar sy goud gewen en net-net stadiger as Zola Budd se nasionale rekord gehardloop het.

Dominique Scott-Efurd sal nou Suid-Afrika se enigste verteenwoordiger in die 3 000 m in Stanford wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.