Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Cheptegei mors met 5 000-wêreldrekord
Joshua Cheptegei van Oeganda het Vrydagaand in Monaco klaargespeel met die 5 000 m se wêreldrekord. Foto: Getty Images

Joshua Cheptegei het Vrydagaand die 5 000 m-wêreldrekord vermorsel en sommer nog breed geglimlag op pad na sy geskiedkundige oorwinning in Monaco by die Diamantliga-byeenkoms.

Die langasem van Oeganda het een van die verstommendste wedlope nog gehardloop toe hy die laaste twee van die 12 rondtes om die atletiekbaan elk in onder ’n minuut kaf gedraf het om die wenstreep oor te steek in 12 minute, 35.36 sekondes.

Hiermee het hy Kenenisa Bekele se vorige rekord van 12:37.35, wat al sedert 2004 staan, iets van die verlede gemaak.

Dit is egter die wyse waarop hy dit gedoen het waaroor nog lank gepraat sal word, want Cheptegei het gelyk of hy maklik genoeg energie gehad het om nog ’n keer of twee om die baan te hol.

Waar sy aanslag op ’n wêreldrekord suksesvol was, is daar nog een wat tans bedreig word deur Karsten Warholm in die 400 m-hekkies.

Warholm, wat vroeër vanjaar die voorste tyd in die geskiedenis in die 300 m-hekkies genael het, het Vrydagaand die eerste keer in 2020 in die blokke gesak in sy voorkeuritem.

Karsten Warholm van Noorweë storm eindstreep toe in die 400 m-hekkies in Monaco waar hy Kevin Young se byeenkomsrekord vermorsel het. Foto: Getty Images

Die Noorweër het sy teenstanders soos kinders laat lyk en die wenstreep in 47.10 oorgesteek.

Hiermee het hy die Kevin Young se byeenkomsrekord van 47.60, wat al sedert 1992 staan, aan flarde gelaat.

Young het egter steeds die spogreg met sy wêreldrekord van 46.78 wat ook al bykans 28 jaar staan.

Warholm het verlede jaar al 46.92 gehardloop, die tweede vinnigste tyd nog.

Die Suid-Afrikaner Antonio Alkana het ’n nagmerrie beleef in die 110 m-hekkies waar hy laaste geëindig het.

Die Afrika-rekordhouer, wat in sy derde wedloop in aksie was sedert hy verlede maand in Europa geland het, sou nie tevrede met dié poging wees waar hy ’n teleurstellende tyd van 13.87 gehardloop het.

Antonio Alkana (links), Wilhem Belocian van Frankryk, Andrew Pozzi van Brittanje en Orlando Ortega van Spanje tydens die 110 m-hekkies. Foto: Getty Images

Hy het nie minder nie as vyf van die hekkies raak getrap.

As die Olimpiese silwermedaljewenner Orlando Ortega nog geroes was, het hy geen teken hiervan gewys nie.

Die Spanjaard het die Brit Andrew Pozzi verras om die eerste plek in 13.11 op te raap. Dit was boonop die voorste tyd in 2020 sover.

Pozzi was naasbeste in 13.14, maar sal steeds gelukkig wees nadat hy sy persoonlike beste tyd geëwenaar het.

Kenia se Timothy Cheruiyot is die skrik op die lyf gejaag in die 1 500 m waar hy diep moes delf om in 3:28.45 te seëvier. Kort op sy hakke was die Noorweër Jakob Ingebrigtsen in 3:28.68, ’n nuwe Europese rekord.

Die Amerikaner en wêreldkampioen Noah Lyles was haastig uit die blokke in die 200 waar hy gewen het in 19.76.

Die verwagte paalspring-tweestryd tussen die wêreldrekordhouer Armand Duplantis en die tweemalige wêreldkampioen Sam Kendricks kon eindelik nie realiseer nie.

Kendricks se pale het dit nie tot by die stadion gemaak nie en moes hom aan die byeenkoms onttrek.

Nietemin het Duplantis hom nie hierdeur laat onderkry nie en steeds met onder meer die Olimpiese kampioen Thiago Braz klaargespeel. Braz het laaste geëindig nadat hy op 5,60 uitgeval het.

Daar was wel benoude oomblikke vir die Sweed met die dwarslat op ’n hoogte van 5,70, waar hy drie pogings nodig gehad het om homself deur te sien en die Belg Ben Broeders kortliks die voortou geneem het.

Duplantis is toe met sy eerste probeerslag suksesvol oor 5,80, voordat hy ook oor 6,00 is vir ’n gemaklike sege.

Hy het sy slag op 6,15 probeer wys, maar dié hoogte was ’n trappie te ver.

Waar alle aandag op die Nederlander Sifan Hissan was in die 5 000, het dié wedloop ook vir drama gesorg toe die goue medaljewenner in die 1 500 en 10 000 in Doha in 2019, met net minder as 1 200 m oor, af van die baan gestap het in ongemak.

Hellen Obiri, die wêreldkampioen in dié nommer, het toe haar deursettingsvermoë ten toon gestel om te wen in 14:22.12, ’n byeenkomsrekord.

Die Amerikaanse wêreldkampioen in die 800, Donavan Brazier, het ’n taai stryd teen sy landgenoot Bryce Hoppel gewen toe hy die wenstreep in 1:43.15 oorgesteek het. Hoppel was net-net agter hom in 1:43.84.

Ajla Del Ponte van Switserland het ’n oorwinning in die 100 behaal wat selfs haar sou verras. Sy het die wenstreep in 11.16 oorgesteek, terwyl die gunsteling, Marie-Josée Ta Lou van Ivoorkus, net vyfde kon klaarmaak in 11.39.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.